90 monumente ter viering van 90 jaar
deur Riana Breytenbach
Ruiterwag-kommando het weggespring en monumente in Kaapland besoek om aan die #Ken my Herkoms Uitdaging op Facebook deel te neem. Dis ook die jaar waarin die Voortrekkers 90 jaar oud word. Dus het Ruiterwag aan die gang gespring met die doel voor oë om 90 monumente te besoek ter viering van die Voortrekkers se verjaarsdag. Daar is soveel moeite en baie pret wat saam met die soeke na Monumente gegaan het. Oor die geskiedenis was ons oë weereens oop oor vergete monumente wat herontdek is. Spesiale toestemming en die vergunning dat monumente en geboue spesiaal vir ons oopgesluit word, was deel van hierdie opwindende reis na ons geskiedenis. Die kinders is by monumente afgeneem en daarna is die geskiedenis van die monument opgelees en aan hulle verduidelik. Die ouers het die uitdaging netso geniet, veral omdat hulle dit saam met hul kinders kon deel en kon terugstap in tyd om elke monument en diegene wat in oorloë gesterf het te onthou.
Op 16 Oktober 2021 het Ruiterwag ’n Monumente Safari gehou waaraan Voortrekkers en ouers deel geneem het. Die geskiedenis is gedeel, die 204 trappe van die Britse Setlaarstoring (Campanile) is uitgeklim, daar is ywerig geskoffel rondom drie monumente om dit mooi skoon te maak en nog ’n “Ek soek na my Dina”-dansie in die Operahuis was alles deel van die Monumente Safari terwyl ons soek na die laaste monument. 90 Monumente om Die Voortrekkers se 90ste verjaarsdag te vier.
Ruiterwag onthou die gestorwenes van die oorloë. Die helde wat gesneuwel het. Die vroue en kinders in konsentrasiekampe. En helde wat enduit baklei het “VIR JOU SUID-AFRIKA”. Wat ’n eer en voorreg om ons vlerke oor ’n tydperk te kon sprei om ons herkoms te eer en te vier.
Ter viering van Die Voortrekkers se 90ste verjaarsdag, sê Ruiterwag-kommando baie geluk en deel die 90 foto’s en monumente net om te sê ons onthou. Baie dankie dat Die Voortrekkers vir 90 jaar ons godsdiens, taal en kultuur lewend hou en steeds voortveg. Ons is deel van hierdie reis en ons onthou saam. Ons gaan groot. “Lekker verjaar ou maat, lekker verjaar. HOU KOERS!”