‘Aquaman’ weet niks… Die Voortrekkers weet van Atlantis!

deur Mathilde de Klerk

Die naweek van 20-23 Maart 2024 het verkenners van reg oor Namibië in Walvisbaai kom saam kamp. Die spesialisasies wat op hiérdié Atlantis Kamp aangebied is, is Seekunde en Seilkuns.

Ons was só bevoorreg om die ongelooflike Skedelkuspark en Doropbewaaringsarea te kon besoek en die wonder van ons Woestyn-natuur te kon beleef.

 

Ligene, dierelewe, plante, voëls. Die kus- en seelewe, skeepswrakke en versteekte skatte… Ons het by ’n omgewingsimpakspesialis gekuier en weereens besef hoe klein ons in God se groot skepping is. Wat ons impak op ons omgewing en natuur is en die groot verskil wat ons kan maak deur ons doen en late bietjie aan te pas.

 

Dan die heerlike kuier by ’n omgewingsbewaarder wat baie betrokke is by die bewaring van ons Woestynolifante. Sy volhoubare, organiese, selfversorgende, ekovriendelike huis in die Swakoprivier was ’n belewenis.  Die besoek aan Namdoc, waar ons tot op die drywende dokke kon gaan inloer om te sien hoe massiewe skepe skoongemaak en herstel word.

 

Seework, een van die visfabrieke in Walvisbaai het hulle deure vir ons oopgemaak om tot in die hartjie van die fabriek te kon sien hoe vis verwerk, verpak en uitgevoer word.  Die Walvisbaai Seilklub het met al hul wyshede ons verkenners toegerus om die see te kon aanpak met kennis en selfvertroue. Dit alles saam met die lekker eet en saamkuier maak die Atlantis kamp, voorwaar ’n kamp duisend.