Boknes PD-Gebiedskamp
Op 28 September 2018 arriveer 75 laerskoolkinders regoor die Oos-Kaap op Boknes Voortrekkerterrein. Dis so lekker om al die kinderstemme te hoor op die terrein. Nadat almal hulle lêplekkies uitgesorteer het, begin ons volstoom met ons program onder leiding van ons Kommandoleier, Nig Lizan Burger.
Die eerste aand is gereserveer vir ons heerlike nagmars wat ingekorporeer is op ons seerower-tema. Hulle het by elke punt wat hulle ontsyfer het ’n deel van hulle seerower-mondering ontvang. Ai, ons het darem oulike klompie seerowers gehad na afloop van ons nagmars.
Kentekens waaraan gewerk is deur die loop van die kamp was Gr 0 – 2 = Spele; Gr 3 = Toeka; Gr 4 = Noodhulp & Seekennis; Gr 5 = Roeikuns & Boeresport; Gr 6 = Sterrekunde & Redding; Gr 7 = Kamplewe.
Ons kampvuurkonsert is gehou in ons nuwe Boma wat op ons terrein aangebring is. Dit het gesorg vir baie pret en plesier. Nuwe offisiere is ook ingelyf op die geleentheid met ons allergewilde “Kerrie-Jam”.
Elke aand is afgesluit met heerlike warm sjokolade en ons eie tuisgebakte koekies wat deur die kombuistannie gebak word. Hulle was ook versier volgens ons tema.
Die offisiere moet mos ook bietjie pret hê op die kamp. Na al die kinders gaan slaap het op die voorlaaste aand word daar prysuitdeling gehou en al die blapse wat begaan is op die kamp word met almal gedeel in die vorm van ’n strafstelsel. Afhangende van hoe hard jy jou naam met ’n plank geslaan het, is deur die hoofseerower besluit of jy die plank moet loop en of jy vir ons moet roei om toiletpapier te gaan koop. (Ons het uit voorraad gehardloop voor die kamp klaar was.)
Die laaste dag sluit ons die kamp af met ’n heerlike boeresport wat gewoonlik op die strand gehou word as die weer dit toelaat. Ongelukkig het daar ’n baie sterk wind opgesteek en ons het dit in die beskutting van die kampterrein gehou.
Boknes PD-kamp is ’n kamp vol pret en plesier. Elke kind stap daar uit met baie goeie herinneringe om vir die res van sy lewe te koester. Ons leuse op ons kamp is nie verniet “Alles wat ons doen, doen ons vir die kinders” nie.
deur Julie Holtzhausen