Buitepos Selfbehoud 2019

Melissa Franken (Dispensier, Buitepos 2019)

Hierdie jaar se graad 11-Selfbehoudkamp het, tesame met die lentebloeisels, afgeskop in die hartjie van die Sederberge. Dit was voorwaar ’n belewenis.

Bewuswording
Foto deur: Heiko Berner (Vaandrig, Buitepos 2019)

As ons oor die kamp praat, kan ons sekerlik nie anders as om by die pragtige landskap te begin nie – ’n stukkie erfenis bewaar vir ons oë om te aanskou. Ons was bederf met berge, heuwels, stof en sterre; afgerond met ’n reënboog van God se belofte aan ons. Alles wat Sy teenwoordigheid beklemtoon en ons herinner dat Hy die punt van ons bestaan is.

Die weer het soos die gemoed van die kinders en amptenary (offisiere) geleidelik warmer geraak soos wat die kamp verloop het. In die aande was dit darem ’n noodsaaklikheid om “knus” te slaap sodat jy die volgende dag optimaal sou funksioneer! Ons kan nie elke geheim van Buitepos Selfbehoud verklap nie, maar kan sê dat dit die plek is waar vriende en omstandighede mekaar slyp.

Foto deur Heiko Berner (Vaandrig, Buitepos 2019)

Die aansteeklike gees het die koue aande en water weggedryf met positiwiteit en liefde –herinneringe wat vir altyd gekoester sal word. Dit is waar jy leer om te triomfeer ongeag jou omstandighede. Dit is waar jou skrape verander in Buitepos-padkaarte wat jou rigting gee vir dit wat mag kom. Dit is hier waar jy behoort en waar ons almal se legkaartstukkies saamgevoeg word om ’n groter prentjie te skep.

Die hartjie van die Sederberge is verseker gevind en ons harte is saam gebind. Ons grense is verskuif na nuwe horisonne en ons almal sal altyd “Kies om te Kan!”.