Buitepos Selfbehoudkamp 2018

“Waar vriende familie word”

Hier is ’n kamp in die Wes-Kaap, meer spesifiek die Sederberge, waar Gr 11-Verkenners (nie net Kapenaars nie, hoor!) die geleentheid het om te kom wys waarvan hulle gemaak is. Dis presies ook wat die afgelope vakansie gebeur het …

Dis hier waar jy – binne minute – ’n dubbele toubrug oprig én 30 spanmaats droogvoets oor die rivier kry. Dis hier waar jy rotsklim teen ’n regte berg, en abseil teen ’n loodregte krans hoog op die bergtop. Dis hier waar jy slaap onder ’n natuurlike rotsboog, en wanneer jy na die sterrehemel opkyk, besef jy dat jy nie eers naastenby kan besef hoé groot Hy is nie!

Waar elders kry jy ’n opperhoof met volstruisveer in die hoed … of ’n dispensier wat skalks vir jou glimlag wanneer jy jou dagloon gebrekkig blootlê? Waar elders sal jy proe hoe smaak waterblommetjies, fisant en vark … uhm, -vleis? Wat wel verseker is … die bevordering vanaf Posvolk tot Vryburger is ’n soete genot!

Moenie die fout maak en dink dis net maanskyn en rose nie! Nee, dis dalk meer soos sonskyn en klippe (kou). Maar dis dán wanneer die kamp se leuse jou aanspoor tot groter hoogtes: “Kies om te kan”! Dis ook dan wanneer ’n groep individue begin saamspan as een, en met die Here se krag bo uit kom! Dis ook juis dán wanneer vriende familie word!

 As ons saam die berge klim wat ons bymekaar sal bring,

 sal ons aan die lewe klou en ons oë op God bly hou.

(uittreksel uit Kamplied 2018)

deur Sanet van Hoving