Dienaarleier Verkennerkamp te Bodemvas
’n Groep graad 11-Verkenners het op 30 September die Vaalrivier aangedurf met die 12 meter Gees Bekruiper. Watter wonderlike ervaring!!!!!! Net eers duidelikheid oor die naam van die vlot – in kort die GB. Hierdie jaar het daar ’n week voor die kamp ’n groep op WhatsApp ontstaan waar daar deeglik beplan is wat met elke graadgroep gaan gebeur op ons tog van 35 km terug na die hoofkamp. Daar is ’n wapenarsenaal opgebou wat ander jaar se Vlotters in die skadu gestel het. Die naam dus is die Afrikaanse vertaling vir “Ghost Busters”.
Hierdie jaar sal in die annale opgeskryf word vir een van die natste jare. Daar was letterlik nie ’n droë slaapsak te bespeur en komberse is ingevoer vanaf die hoofkamp. Ten spyte van die reën was die GB’s se gees nie gedemp nie. Dit was ook die kleinste groep wat nog ooit op die Vlot was. Maar soos ware Dienaarleiers het hulle die Vlot betyds gebou gekry en drie van die dae het hulle al middagete by die oornagplek genuttig. Gelukkig was die wind van agter en kon die GB met seile en windkrag teen ’n asemrowende spoed beweeg.
Die bemanning was Anria Wolstenholme, Christine Kennedy, Burger Cronje, Johan Teessen, Tanya Kruger en Es-Mari van der Merwe. Dan was daar die Staatmaker Steffan van Tonder, of soos Staatmakers op die Vlot bekend staan, die Vlotparasiet. Hy was dan ook die Adjunk-generaal.
Die Kaptein was Nig Susan Huxham en die Generaal Neef Reinier Snyman. Ons Vlotdok was Nig Annemarie Daffue en Nig Jomarie Kilian was Luitenant Jo. (Net ter inligting: die range is toegeken die week voor die kamp.)
Hoogtepunte hierdie jaar was eerstens die voetewasseremonie wat deur die Generaal, die Adjunk-generaal en die seuns uitgevoer is. Die laaste aand het hierdie manne die vroulike bemanning se voete gewas met WARM WATER en heerlike borrelbadseep. Dit was ’n wonderlike ervaring en het die hartsnare diep geroer. Ons het ook ’n besoek aan die Gletser vloere gebring. Die graad 7-groep is ontvoer en vir die graad 8-groep is daar ’n Vlotkoek gebak ter viering van hul eerste jaar as Verkenners. Die graad 9-groep is uitgenooi na ’n bruilof van hulle twee staatmakers. Die GB’s het hul donkie gedokter met blou borrelbadseep en so bietjie bruis in hul suiker geplaas. Die graad 4’s, 5’e en 6’e is ook vermaak met ’n draai op die vlot en die bykomende grimeersessie (modder en beesmis), om nie te praat van die Vlotdrankie wat hulle moes sluk nie.
Gedurende die week het elke Verkenner opnuut hul droom, wat die Droomgewer vir hulle beplan, gevind en is hulle huis toe met ’n missie vir hul toekoms. Hulle is toegerus om leiers te wees as konsekwente Christene, moderne Afrikaners en positiewe landsburgers, maar ook om Dienaars te wees soos Jesus Christus.
Duer: Susan Huxham