Gedeelde genade

deur Nelmari Oosthuysen

Vanjaar het die Oos-Kaap Voortrekkers se sewe kommando’s saamgestaan om die genade wat ons elke dag ontvang ook te deel met mense in ons gemeenskappe. Elke kommando kon instansies identifiseer vir wie ons benodigdhede ingesamel het. Elke maand het ’n ander kommando se begunstigdes ’n beurt gekry vir ’n insameling.

Saam met Uitenhage-kommando samel die Oos-Kaap Voortrekkers skryfbehoeftes in vir Die Mula-winkel. Hierdie skryfbehoeftes is versprei aan minderbevoorregte skoolkinders.

Oos-Londen-kommando se insameling van wol en sopbestanddele oortref alle verwagtinge. Sowat 40 serpe, 35 komberse, 54 pare slaapsokkies en 186 beanies word gebrei met wol geskenk vanaf al ons kommando’s. Dit word versprei na instansies soos Guardians of Hope, Ebenezer sorgfasiliteit en vele meer. Ons samel ook genoeg bestanddele in om 110 sopbottels te vul wat onder andere versprei is na skole in die gemeenskap.

Ons samel fluks toiletware in vir tehuise vir Despatch-kommando. Sowat 120 pakkies word versprei aan al die tehuise in die omgewing. ’n Pragtige pakkie met seep, waslappie, tandepasta, tandeborsel en ietsie soets word aan bejaardes oorhandig.

Saam met Ruiterwag-kommando samel ons sowat 215 kg saad en 50 kg koerantpapier in om te skenk aan African Dawn. Hierdie instansie help om diere te rehabiliteer om sodoende hopelik weer terug te keer na hul natuurlike habitat. So dra Die Voortrekkers ook by tot die voortbestaan van diere wat ’n tweede kans gegun word.

Somerset-Oos-kommando word ondersteun met hul insameling van tweedehandse klere, speelgoed en speletjies. Sowat 30 bokse se klere sal geskenk word aan minderbevoorregtes.

Tans word kontantbydraes ingevorder saam met Kragga Kamma-kommando. Met ’n gedeelte van die fondse gaan groenteplante aangekoop word en geskenk word aan ’n gevestigde gemeenskapsgroentetuin. Die res van die finansiële bydrae gaan geskenk word aan SAAI (Suider-Afrika Agri Inisiatief) as deel van ’n droogte-hulpfonds om so ook ons boere te ondersteun.

Met ons laaste insameling ondersteun ons Langkloof-kommando. Ons gaan poog om soveel moontlik blikkies kos in te samel om te skenk aan haweloses in die Langkloof.

Met so ’n span maak ons ’n verskil in die gemeenskap. Dankie Oos-Kaap vir jul oop harte (en beursies). Dit is ’n voorreg om ander in nood te dien. Ons aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie, maar as genade.

 

Oos-Kaap vier 90 jaar met feeshemde en feeswyn

As deel van die Oos-Kaap se Skadu-gebiedsbestuur 2021-inisiatief pronk Oos-Kaap lede met pragtige feeshemde. Die turkoois hemde staan uit met die Oos-Kaap logo aan die een kant en die feesjaar-logo op die ander kant. Ons is almal opgewonde om deel te wees van ’n jaar waarin ons ekstra groot gaan! Ons dank die Here vir keer op keer se genade.

As deel van ’n fondsinsamelingsprojek deur die Oos-Kaap bemarkingskomitee word vyf verskillende wyne verkoop. ’n Heerlike Pinotage 2019, Cabernet Sauvignon 2019, Pink Lady Rose, Sauvignon Blanc 2020 en Chenin Blanc 2020 spog met hul eie feesjaar-etiket.