Graad 7 Gebiedskamp
Die graad 7-kamp moes vanjaar van nuut af staan gemaak word met ’n totaal nuwe tema. Die Verkennerspesialisasies Berge en Riviere is aangebied.
Een van die hoogtepunte is die feit dat die graad 7-kinders deur ongelooflike spanwerk en harde handearbeid tussen 09:00 en 11:00 Maandagoggend van niks af ’n eie kuierplek en kampvuur amfiteater geskep het. Dit was wonderlik om te aanskou wat jong kinders kan vermag as daar ’n wil is en almal saamwerk. Hulle het denneboomstompe verskuif en aangedra vir sitplekke wat ek nie gedink het moontlik sou wees nie.
Die busrit deur die Boland oor drie bekende bergpasse en riviere, die oudste staalbrug en klipbrug wat nog in gebruik is in die land, verby ’n blokhuis buite Wellington, deur die ou tonnel in Du Toitskloofpas, verby die wingerde van die Breederivier en Franschhoek-valleie en die Hugenotemonument en die besoek aan die Theewaterskloof, Bergrivier en Wemmershoek damme was nog ’n hoogtepunt. Ons was veral opgewonde om te sien hoe die Theewaterskloofdam se watervlak gelig het, al was daar nog heelwat wit sand aan die kante sigbaar. Die lied van die Boland het die Donderdag voor ons afgespeel.
In die 40 jaar wat die Wemmershoek-kampterrein bestaan, was dit vir ons as offisiere ‘n eerste keer ooit dat ons toegang gekry het, met baie papierwerk vooraf, om die Wemmershoekdam te besoek. ’n Ongelooflike mooi versteekte prentjie tussen die berge sonder die rommel wat die ander twee damme gehad het! (Ons het rommel opgetel en verwyder by die ander 2 damme.) Ek weet nie of daar al voorheen Voortrekkers besoek kon aflê by Wemmershoekdam nie.
deur Elizma Smith