Hier trap, daar trap, in ’n japtrap op Jakaranda

Op Jakaranda 2016 is daar verskillende spore getrap. Die veldkornette het lekker gees geskep as die katte. Jan-Albert in die rol van Die Swart Kat het sy verskyning gemaak op strategiese tye en dan sy spoor gelos sodat die kampeerders kon weet hy slaap nie.

Dis die lekkerste kamplekker om op Hartbeesfontein aan te kom en die kursusbaniere verwelkom jou aan weerskante van die pad met die vrolike kampbanier by die administrasieblok. Dan is jy op JAKARANDA. Sommer op dag een het snaakse dinge gebeur: ’n wandelende tent oor die seremonievlakte. Dit blyk toe ’n eerste kampeerder te wees wat aan die verkeerde kant sy tent opgeslaan het.

Die Voortrekkers se 85ste jaar is behoorlik gevier. Na die boeresport-kaskenades is lekker partytjie gehou. Die meer as 600 Jakaranda-kampeerders het die “Sporelied” gedans dat die stof so staan. Hulle gaan almal as “kenners” van die bewegings terug kommando toe.

Handwerk het as deel van hulle projekte sementstene gegooi met klip-voetspore in. Isak en Margaret van die terrein het seker gemaak hierdie kunswerke het hul lê gekry tussen die vetplante in die tuintjies. Die jongste groep op die kamp, ons Kapokkies, het hulle voetspoortjies verewig in sement. Hulle sal as regte Jakaranda-kampeerders eendag as penkoppe en drawwertjies terugkom om hulle op nuwe spore te neem. Die besoek van die jagluiperd was ’n hoogtepunt by Ekosorg. Die kursusgangers en besoekers aan hierdie sessie moes baie stil wees en stadig beweeg, want hierdie kat wou nie gaan lê nie. Elke ander kursus, Kind van Jesus, Veldkook, Plantwaarneming, Noodhulp, Vasbyt, Touwerk, Weerkennis, Beeldende Kunste, Redding, Spoorsny en Erfgrond het met entoesiasme en praktiese aanbiedinge verskillende spore in elke kind se hart en lewe gemaak, want ons is lief vir ons Voortrekkerkinders. Lekker eet is tradisie by Jakaranda en daar is altyd vrugte of ’n broodjie met koeldrank beskikbaar vir ’n honger magie. Die volwasse Spysenieringsgroep het ons hierdie jaar verras met feestelike spore-vlaggies, kershouers en ’n pragtig versierde saal vir die Medemensete om aan te sluit by die ete-tema van: “Jy is die spoor”.

Die medalje vir Besondere diens Gebied is aan Zelna van Tonder oorhandig – tannie Veldmuis is baie ervare met die graad 1’s en 2’s.

Ds. Lizette het ons dagstukkies uitgewerk sodat elke ouderdomsgroep apart kon gesels of werk. Ons is geneem op Jesus se voetspore aan die hand van adidas, reebok en nike.

Dankie vir ’n geseënde 2016-kamp. Die Swart Kat, alias kampleier Jan-Albert, sê: Julle moet Vastrap tot 2017.

Deur: Annemaré de Kock