HOOFLEIER STAP VOOR

Klem is op gesinne, sê hoofleier

Geskryf deur Ruan Bruwer, soos verskyn in Volksblad, 15 Julie 2017; foto geneem deur Mlungisi Louw

’n Gesinsbeweging met ’n sterk klem op gesinne waar almal tuis voel, is die toekomsvisie van Die Voortrekkers se hoofleier. Dr. Danie Langner, hier by sy gesin, is gister onder dié ou olienhoutboom, bekend as die Samesweringsboom, op die plaas Onze Rust by Bloemfontein ingehuldig. Die Langnergesin, van Centurion, wil die voorbeeld stel dat ’n gesin saam pret in Die Voortrekkers kan hê en tuis voel. Die Langners is van links, voor: Carike (13), Duané (9), ma Melanie, Merie (9), pa Danie en Anneke (17); agter: Niël (14) en Daniël (13) .

’n Gesinsbeweging met ’n sterk klem op gesinne waar almal tuis voel, is hoe Die Voortrekkers se hoofleier glo die beweging se toekoms verseker sal wees en wat die beweging relevant sal hou.

Dr. Danie Langner het gister, toe hy vir sy tweede termyn van vier jaar as hoofleier van Die Voortrekkers ingehuldig is, gesê die beweging wil inklusief wees en ’n “behoortplek” aan enigiemand bied.

“Die belangrikste span in Die Voortrekkers is die gesin. Dit behoort ’n plek te wees waar almal welkom en tuis is.

“Ons is nie net ’n vereniging met ’n fokus op kultuur, avontuur of natuur nie, maar al drie van hulle. Ons wil op ’n moderne manier dinge doen wat lekker vir jongelinge is. Dit moet ’n belewenis wees.

“Waar kan ’n kind deesdae in ’n veilige omgewing bergklim, in die rivier swem of langs ’n kampvuur sit? By Die Voortrekkers gebeur dit.”

Langner se hele gesin van sewe is almal Voortrekkers en is die naweek in Bloemfontein vir die 23ste vierjaarlikse nasionale kongres.

Die inhuldigingseremonie het onder ’n olienhoutboom, bekend as die Samesweringsboom, op Onze Rust, familieplaas van oudpres. M.T. Steyn, plaasgevind. Onder dieselfde boom is Die Voortrekkers se eerste hoofleier, dr. N.J. van der Merwe, op 2 Julie 1932 ingelyf.

Van der Merwe se seun, Nico, se as is verlede jaar ná sy dood hier gestrooi. Twee van Steyn se nasate was gister teenwoordig. Volgens Langner moet Die Voortrekkers “die rigting vir die jeug” aandui.

“Ons wil niks anders wees of doen as om ’n kompas vir ons kinders te wees nie. Dis die belangrikste werk wat ons kan doen en ons leuse is ‘Hou koers’.”