Johanna van der Merwe-kommando gestig

Op 25 Maart is ’n splinternuwe Voortrekkerkommando by Laerskool Louw Geldenhuys in Linden, Johannesburg, gestig. Dit is die 14e nuwe Voortrekkerkommando die afgelope termyn en die tweede nuwe een in Johannesburg. Dit was nie net ’n mooi stigtingseremonie nie, daar was iets groots aan die geleentheid. Dalk was dit die tagtig opgewonde Voortrekkertjies, of die emosies van die handjievol Voortrekkeroffisiere wat baie hard gewerk het om die droom te verwerklik. Of dalk is dit die feit dat die gemeenskap hulle kultuur- en historiese erfenis bevestig deur middel van die stigtingsdaad.

Ek was baie bly oor die besluit om die nuwe Voortrekkerkommando na ’n dapper 13-jarige dogter uit die Groot Trek te vernoem. Johanna van der Merwe het in 1838 tydens die Groot Moord by Bloukrans en Weenen 21 assegaaiwonde oorleef. Haar pa is saam met Piet Retief vermoor en in een wrede seerkrynag het sy haar ma, twee oudste broers en familie, asook haar twee jongste boeties verloor. Die weeskind het met geloofsdapperheid en deursettingsvermoë die uiterlike en innerlike wonde oorwin en uit die seerkry en tragedie opgestaan. Toe die Engelse die Voortrekkerrepubliek Natalia annekseer, het sy teruggetrek oor die Drakensberge, haar in Rouxville gevestig, 12 kinders grootgemaak en is eers op die ouderdom van 62 oorlede.

Tydens die 1938-Eeufees het die Johanna van der Merwe-wa vanaf Morreesburg langs die Weskus opgetrek, deur Springbok, Keimoes, Upington, die Kalahari tot by die Voortrekkermonument. Op 10 Desember 1938 het die Johanna van der Merwe-wa in Linden gearriveer. Kinders van Laerskool Louw Geldenhuys het die wa deur Linden se strate getrek. Vandag is die Johanna van der Merwe-gedenknaald en sementwaspore steeds in Linden sigbaar en die wa veilig in die Voortrekkermonument.

Die nuwe Voortrekkerkommando is ’n nuwe lewende monument vir een van ons dapper kinderhelde. Geluk aan Marilize Botha en haar span Voortrekkeroffisiere en elke nuwe Voortrekkertjie van Johanna van der Merwe-kommando.

Deur: Danie Langner