KABA SELFBEHOUDKAMP 2017

April 2017 het Kaba Selfbehoudkamp vir die vyf en twintigste keer plaasgevind. Die kamp het aanvanklik as Boknes Selfbehoudkamp bekend gestaan, maar omdat dit verwarring laat ontstaan het tussen hierdie kamp en die Boknes Verkennerkamp, en ook omdat ons nie meer by Boknes kamp nie, maar in die Kaba-vallei, net buite Alexandrië, is die naam verander.

Ons was hierdie jaar besonder bevoorreg omdat die alombekende en -beminde Oom Hoffie Williams die kamp kom besoek het. Oom Hoffie is een van die stigterslede van die kamp en het van 1992 tot 2008 die veldkuns-afdeling van die kamp aangebied. Oom Hoffie het so ’n reuse kennis oor die veld dat die opmerking wat die gereeldste in daardie tyd op die kamp gehoor is, was: “Gaan vra vir Oom Hoffie”. Van 2009 af, toe ouderdom tog maar sy tol begin eis het, is ’n baie gereelde opmerking steeds: “Wens ons kon gou vir Oom Hoffie vra”. Hy het eendag grappenderwys teenoor my erken dat as hy doodgaan, sal dit wees soos ’n biblioteek wat afbrand! En hy is reg!

Oom Hoffie het ’n reuse aandeel aan die stigting en groei van ons kamp gehad en dit was voorwaar ’n heerlike voorreg om hom op ons kamp te kon ontvang. “Ek wil nog trek tot op my oudag toe…” is letterlik en figuurlik van Oom Hoffie waar!