KABA Selfbehoudkamp
Vanjaar was die 26ste keer dat Kaba Selfbehoudkamp van die Oos-Kaapse Voortrekkers plaasgevind het – ’n heerlike en geseënde kamp. Dit was ook ’n unieke kamp om twee redes. Eerstens het dit vir die eerste keer in die 26 jaar nie tydens die kamp gereën nie. Dit spreek waarskynlik van die erns van die droogte in die Port Elizabeth-omgewing. Tweedens is daar vir die eerste keer ook ’n finansiële selfbehoudlesing aangebied deur Tertius Barnard, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat vir Glencor in Zug in Switserland werk. Dis die verste wat iemand nog ooit gereis het om hier ’n lesing aan te bied! Tertius het vroeër ook as offisier op die kamp gekamp.
Die kamp is bygewoon deur Verkenners van Oos-Londen, Port Elizabeth, Kimberley en Upington. Ons het werklik sonder enige probleme of siekte of beserings gekamp, waaroor ons baie dankbaar is. Die instapseremonie op die laaste dag is deur HL Danie Langner bygewoon wat dit ook vir die Selfies spesiaal gemaak het.
Die kampterrein op die plaas Klein Kaba net buite Alexandrië op die pad tussen Port Elizabeth en Port Alfred is seker een van die mooiste terreine waar enige Voortrekkerkamp kan plaasvind. Kuswoude met hemelhoë geelhoutbome, reuse sandduine, die ongerepte kuslyn en die aardige gekerm en geskree van boomdassies in die woude maak dit ’n onvergeetlike kampterrein. Uit ons harte uit dankie aan Marnius en Nelmari Oosthuizen aan wie die plaas behoort vir die voorreg om ons kamp op Klein Kaba te mag aanbied!
Ou vriendskappe is hernu, nuwe vriendskappe is gesmee en grense is verskuif. Toegewyde offisiere het verseker dat die kamp vir elke Verkenner ’n unieke en lewensverrykende ervaring was!
deur Willem Petzer