Kamp Nakuphi
Vanaf Saterdag 30 September tot Saterdag 7 Oktober het 96 Voortrekkers by die Da Gamadam bymekaar gekom vir Kamp Nakuphi 2017. Die Da Gamadam is tussen Witrivier en Hazyview in Mpumalanga, ’n rustige area met ’n pragtige natuurskoon.
Kamp Nakuphi bied elke jaar aan die begin van die kamp die Waterveiligheid-spesialisasie aan vir almal wat kom kamp. So word daar ook verseker dat as daar dalk ’n probleem in die water ontstaan, almal sal weet hoe om dit te hanteer. Verder kon die Verkenners inskryf vir een van ses kursusgroepe: Varswaterkunde, Roeikunde en Riviere, Snorkelduik, Seilkuns en Seilvernuf, Voëlidentifisering en Fotografie, en Kommunikasie.
Die Verkenners van Varswaterkunde het onder andere ’n watersuiweringsaanleg besoek, en het die geleentheid gehad om binne-in die Da Gamadam se damwal te gaan, om te sien hoe alles daar werk. Hulle het ook een aand gaan uitslaap langs die damwal, waar hulle drinkwater dié van ’n natuurlike fontein was!
Die groep wat die Roeikunde- en Riviere-spesialisasies gedoen het, het natuurlik baie ure op die water deurgebring. Hulle het hulle eie vlotte gebou, en ook met kano’s op die dam geroei. Een van hulle teoretiese lesings is selfs op die water aangebied! Hulle het ook een aand met hulle vlotte tot aan die oorkant van die dam geroei en daar onder die sterre geslaap.
Snorkelduik was aangebied deur ’n NAUI-instrukteur en die Verkenners kon ook ’n geakkrediteerde skubaduik-kwalifikasie ontvang. Omdat die damwater nie so helder was nie, het die Verkenners ook die geleentheid gehad om in Witrivier se munisipale swembad te gaan skubaduik en snorkel.
Die Verkenners van Seilkuns en Seilvernuf was aangemoedig om stoksielalleen te probeer seil. Elkeen van die kursusgangers het dit reggekry om voor die einde van die kamp onderskeidelik ’n solovaart met ’n dubbelromp- en ’n enkelrompseiljag te onderneem. Kamp Nakuphi het ’n tradisie om dan ’n silwer (dubbelrompseiljag) en goue (enkelrompseiljag) seilknopie aan die kursusgangers te oorhandig as bewys van hulle solovaartvernuf. Die Verkenners het ook een aand die geleentheid gehad om die res van kamp op die water te neem vir nagseil! Die maats wat hulle beurte afgewag het, het ’n groot vuur op die strand gemaak en saam liedjies gesing terwyl hulle vir die seilbote se liggies op die water kyk. Die laaste dag van die kamp was daar ’n regatta teen die offisiere. Ongelukkig vir die Verkenners het die offisiere as wenners uit die stryd getree.
Behalwe vir die pragtige natuurskoon en verskeidenheid van voëlspesies langs die dam, het die Verkenners van Voëlidentifisering en Fotografie ook die wonderlike geleentheid gehad om een dag in die Kruger Nasionale Park deur te bring. Daar is hulle deur ’n gekwalifiseerde gids (en kranige voëlkyker) rondgewys en het daardie dag alleen ongeveer 60 voëlspesies gesien! Terug by die kamp het hulle’n uilboks gebou en in een van die bome opgesit – hopelik het Kamp Nakuphi teen volgende jaar sy eie uil!
Die Verkenners van Kommunikasie het ’n unieke mediaplatform op die kamp geskep, wat uitdagend was omdat daar nie elektrisiteit op die kamp was nie. Hulle was ook daarvoor verantwoordelik om die nagmars vir die res van die Verkenners te beplan en aan te bied. Hulle het hulle so goed van hulle taak gekwyt dat van die Verkenners regtig gedink het dat hulle op soek is na renosterstropers!
Al was die weer soms koud en bewolk, het almal ongelooflik lekker gekamp (en geëet!) op Kamp Nakuphi. Die Verkenners het baie geleer, en hegte vriendskapsbande is gesmee. Ons sien uit na Nakuphi 2018!
Deur: Jaco van der Walt