Kompetisiekamp

Kompetisiekamp vind op Doornkloof op die Overespruit-terrein plaas. Die gebiedskamp word aangebied vir graad 9-Verkenners en ons hanteer die kamplewe en ekologie spesialisasies gedurende die kamp.

Die Verkenners maak vir 4 dae 3 etes per dag vir ’n span van ongeveer 10 Verkenners en afwisselend 3 offisiere. Die Verkenners ontvang ’n vooraf opgestelde spyskaart en resepteboek en moet daagliks ’n inkopielys inhandig vir hul etes. Daar word met die kamp se geldstelsel “die Boon” betaal. Hierdie jaar het dit nogal moeilik gegaan met die etes, want die baie reën het die hout, wat daagliks gedoek moet word, deurnat gemaak. Gelukkig was daar darem altyd ’n snytjie brood beskikbaar.

Verkenners bou ook hul eie geriewe vir die week. ’n Eie veldstoof, tafel waarby ongeveer 12 mense kan sit, ’n veldyskas en ’n dreineringsput. Dit is voorwaar baie harde werk, maar lekker om die sukses daarvan te sien.

Op die kamp hanteer ons ook die finansiële deel van die graad 9-portefeuljewerk en’n kenner van PSG Konsult Bloemfontein het ons kamp bygewoon en die Verkenners meer ingelig van begrotings, spaar en finansiële beplanning.

Ons ekologie spesialisasie dek ook ’n wye spektrum met periodes waar ons voëls kyk, in die natuur stap en na diere, gras en grond kyk, praktiese omgewingsbewaring doen, meer leer van Christenskap en die natuur, en vele ander aksies.

Kompetisiekamp bied vir Verkenners die geleentheid om met gesonde kompetisie lekker saam te kuier en speel-speel die werk klaar te kry.

deur Willie Engelbrecht