Krokodille en Springbokke hou spankamp

deur Nicolene de Witt

Die graad 9- en 10-span van Kraaifontein Voortrekkers het van 29-30 Januarie spankamp gehou. Vrydagaand het almal by Neef Jacques en Nig Letitia se huis bymekaar gekom.

Die aand het ons span speletjies gespeel en gebraai – net weer om in voeling te kom met mekaar (voel soos eeue wat ons mekaar laas gesien het). Ons het buite in tente geslaap. Die Saterdagoggend het ons vroeg opgestaan, ontbyt geëet en toe in die pad geval. Ons is na oom Faan se wynplaas net buite Wellington.

Ons het agterop plaasbakkies deur die wingerde gery. Ons het kort-kort gestop en dan is iets nuuts aan ons uitgewys/vertel – van klein mikroskopiese wurmpies wat die wingerde vreet tot die manier van hoe die lane geplant is of die hoeveelheid daarin. Ons het ook almal die geleentheid gekry om op ’n laaibak te klim; dit word deur ’n trekker gesleep en op die plaas gebruik. Hierdie laaibak word gebruik om die druiwe te vervoer na die kelders.

Ons het verskeie feite van druiwe geleer, hoe wyn gemaak word en hoe dit gestoor word. Ons het ook geleer van verskillende tipes druiwe. Dit is nogal moeilik om druiwe te pluk en is harde werk. Dit is moeilik om te glo die werkers kry nie eens R4 per mandjie wat hulle pluk nie (nie een van ons kon een vol maak in 10 minute se tyd nie). Daar is een werker wat die rekord hou vir 180 mandjies per dag. Elke tipe druif het ’n verskillende blaarpatroon, grootte en vorm. Nadat ons die druiwe gepluk het, het ons die geleentheid gekry om dit te trap met ons voete om wyn te maak. Ons het gekyk wie kon die meeste vloeistof (wyn) uittrap in ’n paar minute se tyd. Ons het geleer dat die kleur van die wyn van die druiwe se dop af kom.

Na al die opwinding het ons almal lekker gekuier, wors gebraai, geëet en geswem (want dit was baie warm).

Nota: Die sap van die Pinotage wat ons daardie Saterdag getrap het (let wel, ons bietjie wat ons getrap het, is maar ’n druppel in die emmer), is die volgende Dinsdag by Bottelary kelder in Stellenbosch afgelewer waarvan rosé wyn op Maandag, 15 Februarie 2021, in die Kaapse hawe op ’n skip gelaai is op pad na Duitsland toe!

Ek weet nie wie die spankamp die meeste geniet het nie? Die kinders of die offisiere?