Leierskamp – Dié LEIERS van môre!
deur Thian Heyns
Tydens die afgelope vakansie het die Vrystaat Voortrekkers weer volstoom gekamp na die grendeltyd dit vir ’n tydjie in die wiele gery het. Leierskamp het dié jaar met 57 Verkenners en 27 Offisiere afgeskop, wat wys dat ons volwasse lede regtig uitgehonger was vir kamp. Die Staatmakers was ook baie goed verteenwoordig op die kamp. Doornkloof het soos altyd diep in harte gekruip en dit was ’n ongelooflike voorreg om weer op Doornkloof te kon kamp.
Graad 10-Verkenners het volstoom begin werk aan die twee spesialisasies wat op Leierskamp aangebied word, naamlik Dienaar-leier en Selfverwesenliking.
Die kamp het vroeg ’n positiewe en begeesterlike atmosfeer ontwikkel onder leiding van ons opgewonde Staatmakers wat almal duidelik ’n positiewe impak op die kamp wou maak. Die Verkenners het ook vroeg tydens die kamp besluit dat vanaf 2021 Staatmakers op Leierskamp bekend sal staan as Neef en Nig.
Leierskamp se fokus is daarop dat elke Verkenner wat die kamp bywoon reeds in hulself ’n leier is, jou unieke leierskapstyl word ontdek en daar word sonder dat jy as Verkenner dit besef, bepaal watter tipe leier jy is. Die belangrikste werk van ’n leier is om te DIEN!
Op Leierskamp word daar diep gedelf in jou menswees, jou eie identiteit en so word daar gebou aan jou as mens. Dienaar-leier en Selfverwesenliking is nie spesialisasies wat ligtelik opgeneem moet word nie, dit het ’n groot invloed op jou as mens. Leierskamp is vol pret en plesier, ons hou kongres en parlement, ons redeneer en lok konflik uit, ons BOU aan JOU! Piekniek op die plato, kampvuur onder die Suiderkruis en vriende soos familie waar jy kyk, maak Leierskamp ’n kamp om te onthou. Ons sluit jaarliks af met ’n dinee wat keer op keer vir die Verkenners ’n hoogtepunt is. “Vrystaat, Vrystaat, hier diep in my hart min ek jou!”
My kampboodskap vir 2021: Daar is ’n GOD, Jy is ’n LEIER en Jy is GENOEG!
Leierskamp, dié LEIERS van môre!
Hou Koers!