Lunsklip – vir die 57ste keer!

Die 57ste Lunsklip was ’n wonderlike ervaring.  Nie net was vanjaar se Buitegroep ’n besonderse groep Verkenners nie, maar daar was heelwat Selfbehouders wat vanjaar  vir die vierde jaar, agtereenvolgens, op Lunsklip gekamp het.

In 2015 het die kamp verander van ’n kamp vir senior Verkenners met slegs graad 11’s (Selfbehoud) en graad 12’s (Buitegroep), na ’n Verkennerkamp wat kursusse vir alle grade aanbied.  Vanjaar is vier kursusse vir die junior Verkenners aangebied en die Selfbehoudkenteken vir graad 11’s.  Al die kentekens wat aangebied word, pas in by die veldwerkkultuur van die kamp.

Die Buitegroep is slegs vir matriek-Verkenners wat die strawwe keurkamp geslaag het.  Vanjaar was die groep nie net groot nie, maar ook ’n besonder sterk groep wat hulle baie goed van hulle taak gekwyt het.

Soos vantevore is die Veldwerkspesialiseringskursus weer vir volwassenes aangebied.  Die kursus berei jong offisiere/Staatmakers voor om as aanbieders op ’n veldwerkkamp op te tree.  Dit is ook ’n geleentheid vir nie-Lunsklippers om die kampkultuur te leer ken en te besluit waar om betrokke te raak.

Met dié dat daar die afgelope tyd meer kursusse aangebied word, word al hoe meer volwassenes benodig as kursusleiers en -aanbieders.  Dit is baie lekker om oud-Lunsklippers terug te verwelkom op die kamp of om nuwelinge te verwelkom.

Die kamp was werklik baie geseënd met goeie weer wat dit moontlik gemaak het dat die program vlot verloop het, en dat die beplande kursusprogramme sonder onderbreking gevolg kon word.  Voor die kamp het die gebied baie reën gehad, met die gevolg dat die veld pragtig lowergroen was.

Dit was vanjaar weer die kamp se voorreg om vir verskeie Verkenners, wat nie die kampgeld kan bekostig nie, borge te vind.  Daar is elke jaar meer Verkenners wat om finansiële hulp aansoek doen en die kamp kon nog altyd help m.b.v. skenkings van oud-Lunsklippers of Lunsklipvriende.

Op Lunsklipkamp leer ons vriende maak, op ’n wyse wat ons toekoms raak.

In die wye veld is die weg gebaan, deur ’n volk se jeug wat mekaar verstaan.

Die vry natuur bring nuwe krag, vul ons met vuur vir elke dag.

Want hand in hand, trek ons na die lig, op ’n hoër doel is ons oog gerig.

deur Janie van Heerden