Monumentale kunswerk
Wanneer mense die Voriemôl besoek, word hul begroet met die 56-blokkie kunswerk teen die rooi muur. Behalwe dat dit so lekker op die oog val, word die beklemtoning van Voortrekkerkleure sommer ’n welkome gesig. Dit is egter die storie agter die kunswerk wat dit monumentaal maak.
Gedurende die eerste Nasionale Offisieresaamtrek in Januarie 2020 word die Praktiese Spanhantering PD-kursus die groeigrond vir hierdie kunswerk. Elke kursusganger het hul eie vloeikuns-blokkie gemaak wat sou deel vorm van die groter eindproduk. Met hierdie kursus was daar nie plek vir verskillende spanne nie, maar eerder Span2020, soos al die kursusgangers nou bekend staan. Behalwe vir ’n kursus met praktiese idees en lekker hulpmiddels, word Span2020 die offisierespan van ’n besonderse uitdagende jaar. Met hierdie kunswerk word elke kursusgangers opnuut herinner aan die belangrikheid en uniekheid van elke individu in hul span en van die ongelooflike invloed wat ons op hulle kan hê.
Span2020 is steeds tegnologies verbind en tydens die grendeltyd is idees en inligting gedeel. Die voorreg om so kontak te hê met Voortrekkers reg oor Suid-Afrika en Namibië maak ons Voortrekkerfamilie ’n digte netwerk van kreatiwiteit, ondersteuning en kennis deel.
Mag hierdie kunswerk elke Voortrekkeroffisier herinner aan ons voorreg en verantwoordelikheid om jongmense se lewens positief te beïnvloed. Aan Span2020: Maak ’n monumentale verskil!