‘n Terugblik – Pret met berge en riviere op Wildschutsbrand

deur Elizma Smith

Die offisiere van die Wes-Kaap graad 7 Gebiedskamp sien elke jaar uit na die week se kamp op Wemmershoek saam met ons graad 7 Voortrekkers en 2023 was geen uitsondering nie. Die Kaap se weer was wel nog buitengewoon stormagtig in die aanloop tot die kamp vanjaar en sommer aan die begin van die kamp, die nag voor die jeuglede Saterdagoggend aangekom het, het ‘n windstorm die markeetente platgevee. Voortrekkers maak ’n plan, ons werk om dit en handel die eerste twee dae van die kamp, Voorslag-evaluering, eers af. Die stormweer bedaar oor die naweek.

Maandagoggend het ons verder kamp ingerig en plat tente weer staangemaak met vele hande wat help vir die tweede fase van die kamp. Tussen die Bolandse berge digby die Bergrivier, doen ons die Verkenner Berge en Riviere spesialisasies.  Jeuglede leer ondermeer van die berge, riviere, bergpasse, watervalle en damme in ons mooi land. Ons behandel Bybelverhale wat by riviere en berge afgespeel het, geskiedkundige gebeure by berge en riviere en sing liedjies oor berge en riviere.

 

Die stroompie op Wemmershoek, wat na baie jare weer vloei, word skoongemaak en in die berge om die kampterrein word indringerplante uitgekap tydens ’n praktiese sessie. Ons vier ook op die kamp Kaapland se 100-jaar herdenking deur ’n fynbostuin met ’n verskeidenheid spesies aan te plant op ons kampterrein.  Elkeen sit hand by en plant ’n plantjie.

Tydens namiddagsessies skakel elke jeuglid in by ’n “maatskappy” van sy of haar keuse. Daar is die groep wat sierdril aanleer, ander doen kreatiewe handwerk, die fotograwe leer nuwe tegnieke aan en neem mooi foto’s, die fotoplakboek groep is besig met hul fotoverhale terwyl die figuursaag buite dreun waar die houtwerkgroep wondere verrig met hout.

Die aandprogramme was ook heerlike pret en groot geesbouers. Een aand het rugbykoors hoog geloop toe ons ’n Wêreldbeker wedstryd gekyk het en die trivia aand het interessante en soms komiese vrae en feite opgelewer. Tydens item-aand is die offisiere vermaak met oulike items oor fabels, idiome, liedjies en Bybelverhale, almal met ‘n rivier of berg as tema. Offisiere onthou van vanjaar se groep die groot geesdrif waarmee die kindears die kamplied vinnig aangeleer en lekker gesing het.

Op ’n geestelike vlak was die aandgodsdiens elke aand besonders met ’n mooi Afrikaanse gedig wat elke boodskap aangevul het. Elke aand op die kamp is afgesluit met ’n laataand kring op die paradegrond waar die groep in die donker Stille Rivierstroom en Op berge en in dale gesing het.

Donderdagoggend is die groep met waterbottels en piekniekkos op die bus vir ‘n rit deur die passe van die omliggende berge en besoeke aan die damme.

Vir die kinders was die fakkelloop Donderdagaand om Kaapland 100 te vier vanaf oom Japie Heese se monumentjie op die Wawiel terrein tot by ons kampterrein, Wildschutsbrand, een van die hoogtepunte. Donderdagaand is afgesluit met ’n dinee in die markeetente. Die kombuisspan het baie moeite gedoen en ’n heerlike maaltyd voorgesit en die tent se dekor het feestelik gelyk.  

Die einde van die kamp breek aan, almal is moeg, maar gelukkig en tevrede. Ons het lekker gekamp, ons knuppeldik geëet aan heerlike kos met ‘n bonus van nagereg elke middag. Nuwe dinge geleer, nuwe vriende gemaak en baie pret gehad en gelag.  Dit was ’n goeie, geseënde kamp. Dankie aan elke offisier en die kombuisspan vir elkeen se besondere bydrae en die moeite wat julle vir die jeuglede gedoen het. Volgende jaar kamp ons weer!