Noord-Kaap kuierkamp
Op Vrydag 24 Junie 2016 het die verkenners op Bodemvas bymekaar gekom vir die kuierkamp. Die verkenners het ’n skattejag uitgewerk vir die Meerkatkamp se graad 6 & 7-kinders. Vroeg Saterdagoggend het ons na Tierkloofskool te Vryburg vertrek vir die kamp. Offisiere en verkenners het gezipline en dit het ’n paar van ons van ons vrees vir hoogtes genees. Daarna het die verkenners ’n tipe van ’n hindernisbaan gedoen. Chris Botma van Tierkloof het aan die verkenners verduidelik dat hierdie oefening oor spanwerk gaan en nie watter span wen nie. Die verkenners het goed in hul spanne funksioneer en het die les van spanwerk goed toegepas. Nadat hulle die baan twee maal voltooi het, was dit tyd vir die pyl en boog-skiet. Elke verkenner het kans gehad om met die byl en boog teiken te skiet. Chris het ook pyle daar gehad wat tennisballe vooraan het. Daarmee het die verkenners mekaar as teiken gebruik. Die verkenners wat braaf genoeg was om as teiken te staan, het met lekker blou kolle uit die stryd getree. Die aand het ons ’n nagstap gedoen en by ’n kampvuur gekuier en gesing. Die naweek was heeltemal te gou verby en was daar nog so baie wat ons wou doen en verken by hierdie baie interessante skool.
Deur: Lizle van Tonder