NPD 2019

deur Henk Lottering

Weereens was  vanjaar se kamp te Westfalia-landgoed naby Tzaneen ’n uitsonderlike kamp vir een en elkeen. Dankie aan die hoofbestuur vir die tyd wat hulle en Kuifie ingeruim het ons kamp te besoek. En nou is, om HL Danie Langner se woorde te gebruik,  die besbewaarde geheim in Die Voortrekkers nou uit.

Ja, in die ongelooflike natuurskoon van berge, plantasies, waterstrome, watervalle en glyklippe het ons die kentekens Tuinier, Dierewaarneming, Handwerk, Plantekennis, Touwerk, Spoorsny en Veldbewustheid aangebied vir 82 kinders en 41 volwassenes. Ja, ons volwassenes geniet die kamp net so veel soos die kinders.

Vanjaar was ’n “klein kamp”, maar dit klink my ná Kuifie en die hoofbestuur se besoek gaan ons uit ons nate bars. Ons is die goedkoopste gebiedskamp in die land en daarom sien die Pretorianers kans om die langpad, met al sy tolhekke,  noordwaarts aan te durf en hier weer deel met die natuur  en net rustig te word. My dank aan een en elke offisier, kind of ouer wat hulle tyd hier by ons opgeoffer het.