ONS GLO
deur Danie Langner
Geen Voortrekker het in Januarie 2020 vermoed wat ’n vreemde wending die jaar sou neem nie. Om die waarheid te sê, ons het uitgesien na ’n jaar vol opwindende projekte, heerlike kampe en nuwe avonture. Niemand sou ooit kon raai dat die Voortrekkers die eerste keer in 90 jaar kampe moes afstel nie, dat ons vandag reeds vir 40 dae agter slot en grendel sit en dat selfone, wat verlede jaar nog in skole verbied was, die nuwe klaskamer sou word nie. Dit is amper asof ons uitgedaag word om te verduidelik wat ons bedoel as ons met ons jaartema sê: ONS GLO.
Enige Voortrekker sal dadelik verduidelik ons neem die Here op sy Woord, daarom is die Bybel ook die fondament van ONS GLO-embleem. Ons weet wat die Here sê, is waarheid en sy beloftes sal waar word. Ons kan daaraan vashou. Ons sal ook kan verduidelik dat Jesus se lydenstyd in die middel van grendeltyd geval het. Ons hou vas aan die kruis van die opgestane Here Jesus in die moeilike tyd. Juis omdat ONS GLO is ons Voortrekkers nie negatiewe mense wat dink alles stuur af op ’n hopelose einde nie. Ons leef met eindelose hoop, omdat Jesus leef. Daarom maak ons innoverende planne, gaan spanbyeenkomste, ja selfs kampe en kampvuurkonserte, voluit voort op kreatiewe maniere. Ons ontgin die moontlikhede wat die digitale wêreld bied ten volle. Ons hou spanbyeenkomste en kommandobyeenkomste met Zoom, Facebook word ons nuwe kampvuurklets en WhatsApp ons nuwe kuiertafel. Voortrekkers se nuwe denke en nuwe manier van dinge doen, maak my opgewonde.
Ons weet ook daar is Voortrekkers wat in hierdie tye regtig baie swaar kry. Gesinne wat oornag sonder inkomste moet oorleef, sente wat twee maal omgedraai moet word en salarisse wat gesnoei is of opgedroog het. Ons harte gaan uit na die gesinne. Moenie ophou met Voortrekkers nie! Elke kind wat ’n Voortrekker wil wees, KAN ’n Voortrekker wees, ongeag finansies. Ons maak planne, spaar waar ons kan en kyk graag hoe ons kan help. Hierdie is die een organisasie waar elke gesin in die moeilike tyd kan tuis voel en behoort. Kanniedood Voortrekkers in Pretoria-Wes help om kos te voorsien aan meer as ’n 1000 mense waarvan die meeste kinders is. So is daar ook regoor die land kommando’s wat uitreik, help, kos gee, omgee, mekaar ondersteun. Dit is die vlam van ONS GLO-embleem. Die lig van ons fakkel wat in donker tye steeds helder skyn.
ONS GLO word in hierdie tye meer as ’n jaartema. Dit word ’n dieper belydenis. ’n Vashou. ’n Uithou. Aanhou. Koers hou.