

Die seilboot as beeld om begronding aan ‘n Penkop en Drawwertjie te verduidelik
(DEEL 1)
Gebruik ’n goeie prent van ’n seilboot of ’n speelgoedseilboot wanneer jy hierdie konsep verduidelik sodat dit visueel is en makliker onthou word of laat die spanlede vir handwerk seilbootjies maak en behandel dan daarná hierdie gedeelte.

Die romp = DIE GRONDSLAG
Die romp van ’n boot is sy basis, die deel van die boot waarmee die boot doen waarvoor ’n boot gemaak is – om op water te kan dryf en nie te sink nie. Om ʼn suksesvolle vaart te onderneem, moet die boot ’n stewige romp hê. As daar gate in die romp is, gaan die bemanning onveilig voel in die boot, want die boot kan moontlik sink.
In Die Voortrekkers is ons Grondslag soos die romp van ’n boot. Dis die basis waarvolgens ons waardes in die beweging bepaal word wat ons veilig laat voel in Die Voortrekkers.
Die seile = DIE WESE
Daar is baie verskillende soorte bote: duikbote, passasiersbote, roeibote, reddingsbote ens. As die boot seile op het, weet ons dit is ’n seilboot – die seile sê vir ons watter soort boot dit is.
Soos daar verskillende bote is, is daar baie verskillende organisasies ook. In Die Voortrekkers sê die wese vir ons watter soort organisasie ons is, soos die seile aandui dat dit ’n seilboot is.
Die reisplan = DIE MISSIE
’n Skipper wat met ’n seilboot op ’n reis wil vertrek moet sy reis beplan en ’n reisplan opstel wat sy reis uiteensit. Die reisplan beskryf hoe die skipper se boot gaan seil.
Net so sê die missie van Die Voortrekkers vir ons wat ons plan, is hoe ons ons doel gaan bereik.

Inspirasie
Waarom is dit sinvol om by Die Voortrekkers betrokke te raak?
Die ewigheidswaarde is van onskatbare belang by elke kind. Daar is nie meer godsdiensvryheid in skole nie, ouers gaan ook nie noodwendig meer op ʼn Sondag kerk toe nie. So, waar anders gaan daardie kind God leer ken en dan op die manier waarop dit moet, deur God te beleef deur Sy skepping.
Daar is ʼn leier in elkeen van ons opgesluit, maar met die huidige skoolsisteem word nie almal sʼn ontgin nie. Elke kind leer hom-/haarself so ken en besef watter waarde daar is om ook te mag opstaan en ʼn verskil te kan maak. Hoewel, as ek as offisier nie daardie kind lei nie, gaan dit net so toegesluit bly en onder ʼn maatemmer weggesteek word.
As ek nie gaan betrokke raak nie, wie gaan? As ek wil kla oor iets, wat het ek gedoen om die hande sterker te maak? Soos met elke organisasie is daar altyd ʼn probleem met veral vrywilligers, maar as ek kan help om ander te bemagtig, kan daar hopelik ʼn stormloop van ouers en onderwysers kom wat so graag wil deel raak van die kommando en saam maak ons mekaar se hande sterker.
Deur weer deel te raak van die natuur, van vars lug en vryheid, iets wat nie eintlik in die stede meer algemeen beskikbaar is nie, skep ons by kinders nie net ʼn liefde vir die natuur nie, maar die grondbeginsels rondom KAN word op ʼn baie gemaklike terein verduidelik en versterk.

Wat is die doel van die Voortrekkerloopbaan?
- Die Voortrekkerloopbaan is Die Voortrekkers se belangrikste kultuurbate.
- Die Voortrekkerloopbaan het ten doel om jeuglede te begelei om verantwoordelikheid te aanvaar – vir hul eie lewe, vir hul medemens, vir hul gemeenskap, vir hul taal en kultuur, vir hul land, vir hul toekoms.
- Deur die Voortrekkerloopbaan vorm Die Voortrekkers deurlopend jeuglede se karakter en ontwikkel hul leierskapspotensiaal en vaardighede.
- Deur kentekens en graadwielwerk kan vaardighede ontwikkel wat jeuglede met selfvertroue die toekoms instuur.

Vyf…
eienskappe van vandag se jeug:
- ʼn Groot persentasie is produkte van wanfunksionerende gesinne. Baie het wonde van gesinsgeweld, molestering, egskeidings, enkelouergesinne en finansiële probleme.
- Hulle is kinders van die digitale era.
- Hulle is meer blootgestel as enige vorige geslag, meer oorval met inligting, opsies en verskillende waarhede, oorgestimuleer, veral as gevolg van die elektroniese media.
- Hulle sluit maklik af van wat hulle as irrelevant beskou.
- Hulle luistervermoë, soos na preke en lesings, is uiters beperk vanweë ʼn kort aandagspan.