

Vyf…
Feite oor Erfenisdag:
- Voor 1994 was die dag as Shakadag bekend, waartydens Zoeloes hulle koning herdenk het.
- Erfenisdag is op 24 September 1995 ingestel.
- Erfenisdag staan ook bekend as Braaidag.
- Erfenisdag is ’n publieke vakansiedag.
- Kode 5 bevat die woord erfenis: ’n Voortrekker is trots op ons taal, kultuur en erfenis en bevorder dit.

Die Voortrekkers se geskiedenis
Alhoewel dr. CF Visser reeds in 1913 begin planne maak het vir die stigting van ’n Afrikaanse jeugbeweging, het dit eers in 1920 tot uitvoer gekom. Die eerste kommando is in Bloemfontein gestig, aan die skool wat vandag die Sentrale Hoërskool heet. Heeltemal losstaande hiervan het mnr. Japie Heese in 1923 ook ’n kommando op Graaff-Reinet gestig en mnr. De Wet Laubscher een op Nieuwoudtville.
In hierdie tyd begin daar onderhandelings met die Boy Scouts om te poog om ’n gemeenskaplike basis vir een enkele jeugbeweging te vind. Hierdie pogings, wat verskeie jare lank duur, stort egter elke keer in duie oor kwessies soos die vlag, die belofte en die amptelike taal vir so ’n gesamentlike beweging.
Op 30 September 1931 word Die Voortrekkers eindelik amptelik gestig, en lyf die destydse eerste minister, genl. JBM Hertzog die eerste Voortrekkers te Bloemfontein in. Aangesien dr. CF Visser verantwoordelik was vir die stigting en die naam vir ons jeugbeweging, staan hy bekend as Vader Visser, die Vader van Die Voortrekkers. Dr. NJ van der Merwe word in 1931 as die eerste hoofleier van Die Voortrekkers verkies.

Die Voortrekkers se verjaarsdag
Op Vrydag 30 September 2022 is Die Voortrekkers 91 jaar oud. Beplan vroegtydig om hierdie dag spesiaal te vier. Dit is ook die dag wat die skole sluit. Hier is ’n paar idees wat spanne of kommando’s vir Die Voortrekkers se verjaarsdag kan doen:
- Elke span bring ’n koek, versiersuiker en versierings. Spanlede versier die koek volgens enige Voortrekkertema. Koeke kan beoordeel word volgens sekere kriteria.
- Reël met die voedingskool of -skole van julle kommando dat die jeuglede aktiewe of formele drag met Die Voortrekkers se verjaarsdag dra. Dit kan ook enige dag naby Die Voortrekkers se verjaarsdag wees. Voortrekkers kan ook die vlaghysing behartig indien dit ’n gebruik by die skool is.
- Hou ’n verjaarsdagpartytjie vir Die Voortrekkers by die skool. Sorg dat elke span eetgoed het. Neem ook vir die personeel van die skool eetgoed om dankie te sê vir goeie samewerking deur die jaar.

Erfenisdag
Ons vier elke jaar op 24 September Erfenisdag. Vanjaar val Erfenisdag op ’n Saterdag, die ideale geleentheid om te braai. Volgens Wikipedia kan erfenis omskryf word as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul dokumentasie.”
As sodanig staan dit ook nie los van die politieke verlede van Suid-Afrika nie. Soos oudpresident Mandela op die tweede Erfenisdag in 1996 in ’n toespraak gesê het: “As ons nasie inderdaad soos die spreekwoordelike feniks uit die as van verdeling en konflik moet verrys, moet ons erkenning gee aan diegene wie se onbaatsugtige werke en talente toegewy was aan hierdie doelwit van ’n nie-rassige demokrasie.”
Daar is verskeie Hoe oms met idees vir braai. Vier Erfenisdag en Braaidag saam met jou Voortrekkerspan. Daar is ook ’n Hoe om met meer inligting oor Erfenisdag.