16 Mei 2022

Nuwe begeleidings vir ʼn paar Voortrekkerliedjies

Ons is baie opgewonde oor die nuwe begeleiding van Voortrekkerliedjies wat deur Johan van Rensburg saamgestel is. Hier is Johan van Rensburg se boodskap:

Die doel van hierdie projek is om nuwe begeleidings te maak vir die saam-sing geleenthede van die Voortrekkers. Die totaal lukrake keuse van die liedjies is gemaak uit die bundel “VoortrekkersKAN lekker sing”. Hierdie projek is ‘n eksperiment om vas te stel of hierdie formaat van begeleiding vir die Voortrekkers sal werk of nie. Indien dit werk (met moontlike aanpassings) kan dit opgevolg word met o.a. ‘n meer doelgerigte liedjie keuse, afhangende van die behoeftes. Enige voorstelle oor hoe ons kan verbeter kan direk aan my of deur Dr Danie Langner se kantoor gerig word.

Wat die lengte en inhoud van die liedjies betref, het ek my laat lei deur die lirieke soos wat dit in die Voortrekkers se bundels verskyn. Talle van die liedjies is baie kort en ek moes herhalings toelaat om dit meer singbaar te maak. Tog wil ek my verbeel dat daar deesdae meer vanaf geprojekteerde lirieke op die groot skerm gesing word. Daarom het ek die lirieke, soos wat dit gesing is, apart verskaf sodat u die lirieke saam met die klankbane kan kombineer in u eie PowerPoint-programme. Die bladmusiek is ook beskikbaar op aanvraag maar is nie geskik vir die groot skerm nie.

Met die maak van die begeleidings, en veral met die stem opnames, het ek probeer om die klem te laat val op die “Lekker sing”. Ek hoop regtig dat hierdie poging sal afspoel op die Voortrekkers en dat hulle sal geniet om saam te sing. Ek kan u verseker dat ekself en al die sangers die maak van hierdie begeleidings baie geniet het. “En wie het gesing?” sal u vra. Hulle is van Potchefstroom, onder die baie bekwame leiding van Loretté du Toit en vir hierdie projek noem ons hulle die Lekkersingliedjiesangers.
Lekker sing!

Groetnis,
Johan van Rensburg.

jvr@midrand-estates.co.za
Selnommer: 082 456 4183

Noem vyf…

Wenke vir ’n nuwe spanoffisier hoe om met ouers en spanlede te kommunikeer.

  • Stig ’n WhatsApp-groep vir die span en gee reëls vir die groep aan die ouers deur (daar word bv inligting oor Voortrekkeraktiwiteite op die groep geplaas).
  • Moenie te veel inligting op een slag deurstuur nie.
  • Wees kreatief, en trek ouers se aandag met foto’s en kleurryke illustrasies.
  • Stuur belangrike dokumente met e-pos en herinner hulle op die WhatsApp-groep daaraan.
  • Praat met ouers na spanbyeenkomste. Op die manier bou jy ook goeie verhoudinge en word hulle deel van die Voortrekkerfamilie.

Wees bewus van die POPI-Wet.  Moenie jeuglede of volwasse lede se persoonlike inligting met e-pos of WhatsApp-groepe rondstuur nie.

Hulpmiddels

Laai gerus hierdie uitstekende boekie om die Verkenner Bonsai-kenteken aan te bied, af. Hierdie boekie is saamgestel deur Dawie Crause met die aanbied van die kenteken vir ’n groep Verkenners.

Saamsing en die moderne Voortrekker (Deel 1)

Musiek speel ’n onmiskenbare rol in die lewens van vandag se jeug. In teenstelling met diegene van ons wat nie so onlangs gebore is nie, wat maar tevrede moes wees met ’n krakerige kasset wat musiek van die radio af opgeneem het, het vandag se jeug gemaklik toegang tot ’n groot verskeideheid van uitgesoekte musiek. Ritme en die klop van die musiek is ononderhandelbaar. Ons jongelinge se ore is fyn ingestel op hulle klankvoorkeure en verloor belang by vervelige en “outydse” musiek. Om cool voor ander te lyk is super noodsaaklik en sing mag party dalk ongemaklik laat voel.

Ons verskillende generasies het dus baie om bymekaar te leer as dit kom by saamsing. Dis ons plig om hierdie tradisie te laat voortleef vir volgende geslagte. Ons weet reeds wat die voordele van saamsing inhou en met so ’n bietjie skuur en afstof is ons Vories dalk binnekort weer “voor inni koor”. Dis belangrik dat ons gedurig ons bestaande skatkis van saamsingliedjies aanvul met nuwe liedjies en ouer liedjies weer ’n moderne klank gee. Kweek ’n liefde vir samesang en nie ’n weersin nie. As Vories ophou sing verloor ons dalk net daardie een draad wat ons Afrikanervolk se kinders nog aanmekaar kan hou.

 

Met ’n hernude insig in samesang mag ’n offisier dalk vra “nou waar begin mens om ons span of ons kommando weer aan die sing te kry?” Die woorde van die Voortrekkerliedjies is maklik bekombaar, maar hoe klink minder bekende liedjies? Hoe brei ek my Voortrekkerliedjie-kennis uit en hoe lei ek my span nie op ’n vals noot nie?

 

Makliker was dit nog nooit nie! Kliek net hier vir ’n splinternuwe versameling PowerPoint liedjies!

Die liedjies is netjies verdeel in 7 onderafdelings, naamlik:

  • Voortrekkerliedjies
  • Natuur & Kamp
  • Voortrekkerwerk
  • Kultuur / Vaderlandsliedere
  • Geskiedenis
  • Tradisioneel
  • Godsdiens

Kliek op die musieknoot van die PowerPoint en maak elke spansessie ’n saamsingfees!

Voortrekkers wat saamsing het ’n gelukkige gees … sang is mos immers die hemel se taal.

Tra – la – la – Lekker SING!

Die wetenskap van leer – gespasieërde herhaling

Het dit al ooit met jou gebeur dat jy vir jou spanlede vra oor graadwielwerk wat gedoen is en niemand kan iets onthou nie. Dit is gewoonlik so iets: “Ek het hierdie werk met julle gedoen. Ons het nog onder die bome op die bankie gesit”. Gelukkig is daar dan iemand wat beaam: “Ja tannie het dit met ons gedoen, maar ons kan nie onthou wat tannie vertel het nie”.

As jy meer kennis oor die wetenskap van leer het, sal mens verstaan dat dit normaal is. Ek neem myself. Ek het al baie Voortrekkerkursusse gedoen en dit is interessante stukkies inligting wat ek onthou. Soos die keer toe ’n persoon in die kursus aan die slaap geraak en hardop begin snork het. Dit is wat ek die beste van die kursus onthou! Ja daar is tegnieke wat maak dat mens beter onthou. Een so tegniek is gespasieërde herhaling oor ’n tyd. Dit beteken net dat as jy iets oor tyd gereeld herhaal, sal jou spanlede dit beter onthou. Veral as jy dit in verskillende kontekste aanbied. Kom ons neem die Voortrekkerkode. Verwys gereeld in graadwielwerk en kentekens daarna, byvoorbeeld: “Watter kode sluit baie goed aan by dit waaroor ons nou gesels”. Hoop hierdie stukkie inligting help.

Laai gerus die illustrasie van die Voortrekkerkode hier af:

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!