

Vyf…
Feite oor gee:
- Om te gee, maak mens gelukkiger as om te ontvang.
- Die Here het ’n blymoedige gewer lief.
- Wanneer jy kan gee, is jy geseënd.
- Gee sonder om iets terug te verwag.
- Dit is soms makliker om materiële dinge soos kos en klere te gee.

Omgeeweek vir Die Voortrekkers
Spanoffisiere is gee-mense. Dit is soms moeiliker om van jouself te gee, van jou tyd en energie as materiële dinge. Om ’n daadwerklike verskil te maak, is dit egter belangrik om van jouself te gee. Baie dankie aan elke spanoffisier wat weekliks van hulself, hul tyd en kundigheid gee om so ’n verskil in kinders se lewens te maak.
Voortrekkers leer baie waardevolle lesse deur uitreikprojekte. Dit is deel van Voortrekkerwees om diensvaardig en diensgerig te wees. Raak betrokke in die gemeenskap en doen iets vir ander. Dit is ook baie goeie bemarking vir Die Voortrekkers. Beplan vroegtydig en doen dit in Oktober wanneer dit gewoonlik Omgeeweek vir Die Voortrekkers is. Hier is ’n paar idees:
- Bak kleinkoekies en neem dit na ’n kinderhuis, ’n huis vir straatkinders, ’n minder bevoorregte kleuterskool, ouetehuis, ens.
- Speel speletjies met kinders.
- Bied aktiwiteite vir minder bevoorregte kinders aan.
- Verf ’n muur en/of speelapparaat van ’n kleuterskool. Sodoende kan Verkenners die praktiese deel van die Verf- of Huishouding-kenteken doen.
- Besoek ’n ouetehuis op Lentedag. Deel blommetjies uit. Bejaarde mense hou ook baie daarvan as daar ’n “konsert” gehou word deur ’n paar liedjies wat gesing word of ’n voordrag.
- Tel rommel op. Dit kan sommer tydens ’n spanbyeenkoms gedoen word. Bring plastieksakke saam.
- Hou ’n partytjie vir kinders. Bied aan om ’n verjaarsdagpartytjie vir minder bevoorregte die kinders te hou. Dit kan gedoen word op ’n Vrydagmiddag by ’n naskool.
- Raak betrokke by Solidariteit Helpende Hand se projekte soos byvoorbeeld die skooltassie-projek.
- Help by ’n sopkombuis.
- Gee ou klere, linne, skoene, tydskrifte, ensovoorts vir minder bevoorregte kinders.
- Berei ’n ete voor vir ’n instansie soos ’n ouetehuis. Daar is ouetehuise waar die inwoners op ’n staatspensioen leef en een ete per dag ontvang. Doen dit as deel van die Spyseniering-kenteken.
- Laat die span sagte speelgoed vir kinders maak. Dit kan as deel van die Huishouding-kenteken gedoen word.
- Laat kinders speelgoed wat hulle nie meer gebruik nie na ’n spanbyeenkoms bring. Gee dit dan vir ’n kleuterskool.
- Sekere instansies borg kinders vir ’n seekamp. Baie van die kinders wat gaan, het nie die basiese toiletbenodigdhede nie. Laat elke kind ’n sakkie bring met seep, tandepasta, waslap en tandeborsel.
- Samel blikkieskos in. Laat elke kind ’n blikkie na ’n spanbyeenkoms bring en neem dit na ’n plakkerskamp.
- Doen iets vir natuurbewaring deur onkruid uit te roei.

Paul Kruger – 10 Oktober
Paul Kruger is op 10 Oktober 1825 gebore, en het as 10-jarige saam met die trek-geselskap van Hendrik Potgieter uit die Kaapkolonie na Transvaal getrek. Hy was ’n verstandige mens, met ’n diep geloof in God. Op 9 Mei 1883 is hy vir die eerste keer as staatspresident beëdig, ’n amp wat hy tot met die ondergang van die ZAR beklee het. Op 14 Julie 1904 sterf Paul Kruger in Clarens, Switserland. Seker een van sy bekendste woorde was: “Neem uit die verlede dit wat goed is, en bou daarop voort.”
Die volgende is historiese gebeurtenisse wat op 10 Oktober plaasgevind het:
- 1899 – Anglo-Boereoorlog breek uit tussen die Britse Ryk en die twee Boererepublieke, Transvaal en Oranje-Vrystaat.
- 1925 – Die onthulling van die Kruger-standbeeld deur generaal JBM Hertzog op die Stasieplein, Pretoria, vind plaas.
- 1926 – Die Suid-Afrikaanse Oorlogsmonument word op die terrein van die Slag van Delvillebos ingewy.
- 1934 – Die huis van Paul Kruger in Kerkstraat word vir die publiek oopgemaak. Dit kan steeds vandag besoek word en word goed in stand gehou.
- 1954 – Die onthulling van die Kruger-standbeeld op Kerkplein, Pretoria, deur dr. DF Malan, vind plaas.
- 1960 – ’n Gedenkteken ter ere van die Duitse immigrante word opgerig.
- 1961 – Onthulling van die Vryheidsmonument op Vereeniging deur dr. HF Verwoerd.
- 1962 – Onthulling van die Kruger-standbeeld naby die Paardekraal-monument deur Staatspresident CR Swart.
- 1968 – Onthulling van Voortrekkermonument in Winburg.
- 1975 – Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, Wes-Kaap, word op hierdie dag amptelik deur die premier BJ Vorster onthul.
- 1975 – ’n Gedenkplaat vir Johannes van der Walt, kampioenstoeier en hoof-generaal van die Ossewabrandwag, word by die Randse Afrikaanse Universiteit onthul.
- 1978 – BJ Vorster word as staatspresident in Pretoria ingehuldig.
Lees ook gerus die artikel op Maroela Media:
https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/goeie-nuus/fak-onthou-oom-paul/
Hierdie inligting is verkry by die volgende skakel:
https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/10-oktober//