

Vyf…
Feite wat jy van Offisiere-kursusse moet weet
- Die Voortrekkers is ’n geakkrediteerde opleidingsinstelling.
- Voortrekkerkursusse word ingedeel in toerusting-, verryking- en geakkrediteerde opleidingskursusse.
- Toerustingskursusseis die basiese kursusse wat elke volwasse lid van Die Voortrekkers moet deurloop. Daar is vier toerustingskursusse, naamlik die Intreekursus, Spanhantering, Voortrekkerbestuur en Kulturele Leierskap.
- Verrykingskursusse is alle formele kursusse wat nie in die kategorieë Toerustings- en Akkreditasiekursusse voorkom nie.
- Akkreditasiekursusseis kursusse wat geakkrediteer is by die betrokke SETA.

Waarom is opleiding vir Voortrekkeroffisiere nodig?
Opleiding is noodsaaklik om al die volwassenes, naamlik offisiere, staatmakers, heemraadslede en jeugvriende, in Die Voortrekkers so goed as moontlik toe te rus om met die jeuglede te werk. Die Voortrekkers wil tydens opleiding ook die volwassenes motiveer om take met oorgawe en entoesiasme uit te voer. Met elke opleidingsgeleentheid sal daar ook genoegsame tyd ingeruim word om mekaar beter te leer ken en jou eie batterye weer vol te laai. Die gebruikswaarde van hierdie opleiding in jou eie werksomstandighede en jou persoonlike selfontwikkeling is ook ’n goeie rede om soveel as moontlik kursusse by te woon. Volwassenes ontvang opleiding om terug te ploeg in jeuglede se leierskap en karakterontwikkeling. Indien dit nie moontlik is om opleidingsgeleenthede by te woon nie, kan van die kursusse aanlyn gedoen word. Die skakel na die aanlyn leer is vanaf die Voortrekkerse se webblad: https://voortrekkers.co.za. Kies dan Aanlyn kursusse & kentekens | Offisiere Opleiding.

Nuwe offisiere in 2022
Elke nuwe offisier in 2022 ontvang ʼn bordesakkie. Hierdie bordesakkie is ʼn geskenk en ʼn klein blykie van waardering vir elke nuwe Voortrekkeroffisier. Bordesakkies is eie aan Die Voortrekkers en behalwe ʼn Voortrekkergholfhemp, seker die item wat elke Voortrekker besit. Elke Voortrekkerbordesakkie vertel ʼn storie. Die meeste PD’s en Verkenners het spanbordesakkies. Die groot seekoei, jakkals of luiperd op die bordesakkie vertel die storie van watter span. Jy kry ook bordesakkies met kamplappies of knopies wat aandui watter kampe en jaar die betrokke kamp bygewoon is. Sommige deurwinterde Voortrekkers se bordesakkies bevat ʼn magdom lappies, knopies en tot selfs kentekens wat van hulle bruin uniform afgehaal is en op die bordesakkie vasgewerk is. Baie kampe het spesifieke plekke waar bordesakkies opgehang word, gewoonlik naby die kombuis. Dit is lekker om die kleurvolle verskeidenheid van bordesakkies te sien. Dié bordesakkie wat jy as nuwe Voortrekkeroffisier ontvang is spesifiek ontwerp met simboliek. Bo-aan die bordesakkie is die leuse van die Voortrekkers: “HOU KOERS”. Die brandende rooi fakkel simboliseer dat ons as Christene ligdraers van die wêreld is, terwyl die blou en rooi wawiele die versinnebeelding is van stewigheid, vastigheid, betroubaarheid, vooruitgang en beweging. Blou en rooi, natuurlik die Voortrekkers se kleure. Vir elke Verrykingskursus vir volwassenes in die Voortrekkers is ʼn kursus-simbool (kenteken) ontwerp. Op die bordesakkie is voorbeelde van die kursus-simbole (kentekens). Daar is dus plek op die bordesakkie om vir Verrykingskursusse wat afgehandel is, knopies aan te steek of kursuserkennings aan te werk. Op die agterkant van die bordesakkie is baie wawielietjies wat so groot soos die kursusknopies en geborduurde simbole is. Daar is dus plek op die bordesakkie dat jy jou eie Voortrekkerstorie kan skryf!