6 Junie 2022

Die wetenskap van leer – samewerking

Samewerkende leer is ’n opvoedkundige benadering tot onderrig en leer waarby groepe leerders saam werk om ’n probleem op te los, ’n taak te voltooi of ’n produk te skep. Die vermoë om saam met ander te werk en van ander te leer is ’n baie belangrike 21ste eeuse vaardigheid. Een van die beste manier om probleme op te los is deur samewerking tussen mense met verskillende vaardighede en kennis. Voortrekkers funksioneer in spanne. Hierdie spanstelsel is die ideale geleentheid vir jeuglede om te leer om saam met ander te werk. Ja, dit is so dat dit soms moeilik gaan met onderlinge onmin tussen spanlede, maar die vaardighede wat hulle leer is van onskatbare waarde vir die toekoms. Spanlede leer om mekaar te aanvaar, te respekteer, saam met ander te werk, empatie te betoon en so bou hulle waardevolle verhoudings.

Vyf…

Wenke om nuwe spanlede te werf.

  • ’n Mens kan nuwe lede werf deur jou spanmaats uit te daag om elk ’n maat na elke spanaktiwiteit toe saam te bring.
  • Adverteer in die skool se blaadjie en op D6. Probeer om elke week ’n plasing te doen in die skoolkoerantjie of op enige middel van kommunikasie na ouers toe.
  • Nooi die skool se kinders uit na ‘n Voortrekkerbyeenkoms wanneer daar ’n lekker kommando-aktiwiteit gehou word.
  • Stel ’n kommando Facebook/Instagram blad op en hou dit op datum met foto’s en uitnodigings na lekker aktiwiteite! Hoe meer plasings, hoe meer mense sien dit! Hou dit interaktief en besig!
  • Dien die gemeenskap! Maak seker dat jou kommando die gemeenskap dien. Trek altyd Voortrekkeraktiewedrag aan en hou by die Voortrekkerkode. Wanneer ons ’n voorbeeld stel sal dit outomaties vir ons lede werf.

Saamsing en die moderne Voortrekker (Deel 3)

DIE BEKORING VAN SAMESANG
Iets gebeur met jou wanneer jy in ’n groep saamsing. Nie soseer mooi sing nie, maar lekker sing. Mure val om, skanse val weg. Dink aan daardie hoendervleis oomblikke soos wanneer die nasionale lied gesing word voor ’n rugbywedstryd, ’n gemeente wat Stille Nag op ’n Oukersaand saamsing, ’n span wat vir oulaas hulle spanlied saamsing …
Sing is LEKKER en maak ons GOED VOEL! Dit gee uiting aan ons emosies, verlig spanning, maak goedvoel hormone los en bevorder ontspanning. Samesang skep ’n gevoel van kameraadskap, samehorigheid en deel wees. Daarmee saam is “saamwerk” ’n ingebore 5de rat – ons werk saam aan ’n gemeenskaplike doel. Ons sing om konsepte beter te verstaan en te onthou wat maak mens met ’n snywond … Ons sing tydens spansessies, wanneer ons stap in die veld, om kampvure met of sonder kitare, of sommer net wanneer die oomblik dit voordoen. Ons hou van lawwe-storie liedjies soos “In ons kontrei” en aksieliedjies met bewegings soos “As jy lekker saamgewerk het”. Ons sing om geluk en dankie te sê en ons Skepper te loof. Ons sing nie net vir die stembande en lesse wat ons in liedjies leer nie. Ons sing oor Volk, Vaderland, maar bo alles vir Vandag.
Maar om so saam te kan sing, is ons afhanklik van gemeenskaplike liedjies wat almal ken, in ’n groep saamgesing kan word en wat tot almal spreek.
Die jongspan het waarskynlik nog nooit kennis gemaak met “Aanstap Rooies nie” (wel, hulle mag dalk dink dis iets geklee in rooi, of gebrand van die son), sien “vuurperde” voor die wa aankom en het waarskynlik geen benul wat ’n jangroentjie of ’n mandolientjie is nie. Hulle mag dalk dink “Nimmer gaan ’n nasie onder” is in ’n vreemde taal geskryf en “Uitspan van Hotagter en Haaragter op Mooifontein” mag dalk ook nie mooi sin maak nie. Is daar dalk witblits betrokke by Tant Hessie se witperd? Die tieners mag dalk wonder waarom volkies in die aand wil gaan koring sny?
Kommersieel beskikbare liedjies is ook nie noodwendig in ’n toonaard geskik om in ’n groep te kan sing nie. Daar is dus ook ’n onderskeid tussen luister-liedjies en saamsing-liedjies. Ons fokus is juis op laasgenoemde. Lees gerus die plasing van 16 Mei SAAMSING EN DIE MODERNE VOORTREKKER.

Kliek net hieronder  vir ’n splinternuwe versameling PowerPoint liedjies!

Hulpmiddels

Speel het groot opvoedkundige waarde vir die totale ontwikkeling van ’n kind. Selfs by volwassenes speel speletjies ’n belangrike rol in die bou van verhoudings en ontspanning. Ons leef in ’n tyd waar baie kinders weet van elektroniese speletjies, maar min werklik buite speel. Baie kinders spandeer baie tyd voor rekenaars, iPads en op hulle selfone. Daar is min geleenthede vir buite rondhardloop en bal skop. Om fisies buite te speel, is baie belangrik vir die kind se liggaamlike ontwikkeling. Deur speel, leer kinders. Speletjies is pret en ontspanning. Speel is dus ’n aktiewe vorm van leer deur verstand, liggaam en gees. Speel is ’n informele leerproses. Die kind besef nie altyd hy/sy is besig om iets te leer nie. Dit is dus die ideale manier om te leer. Die Voortrekkers het ’n speletjiesboek. Hierdie boek is by die Voriemôl beskikbaar of kan hier afgelaai word:

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!