SPDW

Die 3de April 2018 breek uiteindelik aan en Penkoppe, Drawwertjies en Offisiere stroom na De Bank vir SPDW 2018.
Natal Voortrekkers het ook by ons aangesluit en die afwagtende uitsien dat die kamp moet begin,  was amper tasbaar.

Die kamp is geopen met ’n asemrowende openingseremonie waartydens die vlae en 2018 se vaandel per boot, onder ligfakkels en rookgranate aan die Skeepskaptein oorhandig is.

Die tema vir die kamp, “Vasgeknoop” is deur die 6 dae ten volle op die kamp uitgeleef. Jy is vasgeknoop aan God deur Jesus se liefde, vasgeknoop aan jou taal, kultuur en land, en ook aan jou familie en maatjies.

Die kampers het die eerste oggend wakker geword met ’n paaseier in hul bordesakkies met ’n Bybelversie aan: “Niks in die skepping kan jou van die liefde van God skei nie”. Dit was dan ook die tema van die Paasdiens wat deur Marinda Venter gelei is nadat ’n Bybelete genuttig was.

Donderdagmiddag het die reën ons kom verras en gesorg dat ’n heerlike middag van speletjies in die saal, aangebied deur ons Krappernallie, en ’n filmaand met springmielies en al, die kampers vermaak het.

Op Stigtingsdag (6 April 2018) het die kampers gedurende middagete ’n besoek van “Jan van Riebeeck” ontvang wat hulle vertel het oor die rede vir sy koms na die Suidpunt van Afrika asook die lewe op die skepe. Die aand het almal uitgeslaap. Redding en Waterbewustheid het in hangmatte langs die dam aan die slaap geraak.

Saterdagmiddag het ons die kamp se verjaarsdag gevier met koek en ’n reuse skeerroomgeveg waarna die hele kamp in die dam afgespoel het. Die aand is die kamp met ’n waterseremonie afgesluit.

Nadat die kamp opgeruim was Sondagoggend is die laaste vlagseremonie gedoen en is die kampers moeg, maar tevrede terug huis toe.

Tussen al die pret en plesier van hierdie vakansiekamp is daar ook hard gewerk en het die jeuglede die volgende spesialisasies suksesvol ontvang: Spele, Paraatheid, Groot Trek, Waterfiksheid, Roeikunde, Redding, Varswaterhengel, Waterbewustheid en Erfgrond.

Die volwassenes wat die Volwasse Seil-kursus gedoen het, het die dam vol geseil en pragtige sonsopkomste beleef.

Die Groen-dam-monster het ook sy opwagting ’n paar keer gedurende die kamp gemaak en in menige kleuter se hart ingekruip.

Na amper ’n week van bootry, met ’n glykabel in die dam in gly, agter ’n boot op ’n binneband gesleep word en baie swem, speel en leer, groet SPDW 2018 en kan ons nie wag om almal terug te verwelkom in 2019 vir die volgende opwindende avontuurlike vaart op die Vaaldam nie.

deur Gawie Naudé