SPDW vier fees

Fees het ons gevier, met oorgawe!!!

SPDW het vanjaar hulle 40ste bestaansjaar gevier en is sodoende die oudste Penkop en Drawwertjiekamp in Transvaal. Alhoewel Sentraal Penkop en Drawwertjiekamp as ’n veldkamp begin is en vir 21 jaar ’n veldkamp was (te Voortrekkerplaas – Hartbeesfontein), is daar in 1998 besluit om dit te verander na ’n waterwerkkamp. In 1999 is die eerste waterwerk SO aangebied as deel van die kamp naby die Hartbeespoortdam by ’n kampterrein met die naam Hartbees Jeugterrein. Sedert 2000 word SPDW as ’n volwaardige waterwerkkamp met verskeie water SO’s aangebied by De Bank-terrein langs Oranjeville by die Vaaldam.

Daar word jaarliks gehengel, geroei, na varswaterdiertjies gesoek, waterfiksheid gedoen en waterbewustheid as water SO’s aangebied. Daar word ook ’n aantal SO’s wat nie spesifiek water SO’s is nie, aangebied.

Al die kinders mag swem, roei, motorbootry en heerlik by die water speel. SPDW het ’n unieke speelkarakter vir kinders en offisiere.

Daar is behoorlik feesgevier vanjaar met ’n skuimparty, kleurfees, lyndanse en glybane om nie eers te praat van al die lekker bederf-eetgoed nie.

2017 was ’n feesjaar op SPDW!