Spoorsny en varswaterhengel – Alles deel van die Noordkaap Graad 6 Gebiedskamp!
Tydens ons gebiedskamp, doen ons twee spesialisasies. Staatmakers van regoor die land kom terug na hierdie kamp toe, omdat hulle dit beskryf as een van die lekkerste kampe ooit!
Is hengel vervelig? Dis ’n baie interessante vraag om te vra… afhangende van hoe jy daarna kyk. Dis ’n heerlike spesialisasie om te doen vir die wat graag wil leer hoe. Dit bestaan uit ’n aantal aktiwiteite van visvanglisensies tot stroppe bou. Varswaterhengel gaan nie net oor visvang nie, maar jy leer ook oor waterveiligheid en natuurlik ook hoe om vir jouself kos te kan vang as jy die dag regtig moet.
Dan is die lekkerste deel natuurlik as jy self daardie groot barber of karp uit die water trek!
Daarmee saam doen ons ook spoorsny. Ons fokus op kamoeflering, lanternbekruip, nagbewegings, ens. Ons is te dankbaar vir die rivier om te kan skoon was na al die kamoeflering, want dis nogal ’n morsige storie, maar lekker!
Kom kamp volgende jaar saam met ons, ons wil graag hierdie kennis deel met ons mede graad 6 vriende van regoor die land!