Super Snuiter Saterdag

deur Mariska Combrink

Sedert die begin van die Covid-19-inperking word Voortrekkers weekliks uitgedaag om deel te neem aan #SuperSnuiterSaterdag.

Die konsep hiervoor kom vanuit die besef dat ons kreatief sal moet dink oor hoe om jongmense en hul gesinne te betrek tydens die inperking, met uitdagings wat pret en avontuur vooropstel.

Die inisiatief se naam is ontleen aan die Afrikaanse TV-reeks vanuit die vroeë 1990’s waarin Annie Malan die hoofrol gespeel het van die Super Snuiters, ’n groepie avontuurlustige kinders. Generasie X-lesers sal dit seker kan onthou, maar sal geskok wees om nou na uittreksels daarvan op YouTube te kyk en te sien hoe swak die gehalte was in vergelyking met vandag se produksies. (Jou Afrikaanse juffrou van Standerd 6 sou darem baie trots gewees het op die wonderlike s-alliterasie in die naam Super Snuiter Saterdag!)

Die uitdagings tot dusver het ’n potjiekoskompetisie, Vorie Smories, Stil Saterdag Paasfees-venster, stokbrood en selfgemaakte skuilings ingesluit. Voortrekkers wat deelneem aan die uitdaging, plaas dan foto’s hiervan op verskeie sosialemediaplatforms met die #SuperSnuiterSaterdag hutsmerk vir ander Voortrekkers om te sien. In sommige gevalle kring dekking tot buite die Voortrekkers uit en was daar alreeds beriggewing hieroor in sommige plaaslike dorpskoerante.

Hiermee saam is ’n paar foto’s wat van oraloor ingestuur is deur Voortrekkers wat weekliks die uitdaging aanvaar. Voortrekkers van regoor Suid-Afrika en Namibië word genooi om deel te neem aan die weeklikse uitdagings en ook om idees vir toekomstige avontuur-gevulde Super Snuiter Saterdag-uitdagings te deel.