Thabakamp – gee die pas aan in 2019
deur Willie Wagner
Op 24 Maart 2019 het bykans 300 Voortrekkers, ook bekend as Thabaniete – weer saamgetrek in die skadu van die Langberg, kort anderkant Brits. Van regoor die vier noordelike provinsies, en ook uit die Vrystaat, het Thabaniete huis toe gekom om weer die kamp van tradisies, seremonies en emosie te beleef.
Thaba se Veldontdekkers en Jagters het vir die eerste keer kennis gemaak met die veld, nie net om avontuur te beleef nie, maar ook om die ”lewe” van die veld te ervaar. Hiervoor is hulle beloon met die voorreg om die bekende Thaba kamoefleer fidelpet te mag dra. Die Bittereinders (graad 9) was vanjaar Thaba se grootste groep en het met die harde werklikheid van oorlewing kennis gemaak. En ja, om tydens die hitte van die dag onder ’n bos te lê en slaap, is ’n oorlewingstegniek!
Brandwagte en Veldwagters, Thaba se graad 10-groepe, het getrou aan hulle reputasie die kamp beveilig teen alle vorme van bedreigings. Dit was nie vreemd om die Veldwagters, gekamoefleerd en stil-stil teen skemer in die bosse te sien verdwyn of die Brandwagte, op hulle pos te hoor nie: “Victor Whiskey, dit is Bravo Whisky, jou posisie, oor!”
Thaba se graad 11-groep is nie ”Selfbehoud” nie, hulle is PADVINDERS. Op pad na die kruin van die Langberg bevestig hulle luidkeels en met vasberade oortuiging die gees van die Padvinder: “Ek IS die storm, ek oorleef nie, ek LEEF!” Die Rigters van 2019 was voorwaar een van die sterkstes in Thaba se bestaan. Terwyl hulle hulle eie kursus doen, het hulle veld- en oorlewingsvaardighede aangebied vir die res van die Verkenners en met hulle aandprogramme en danspassies Thaba se gees hoog gehou.
Intussen het die groep volwassenes, bekend as Raakvatters, hulle kennis verbreed en met die res van die groepe gedeel, terwyl die Kampsteun en Kampbestuur groepe die kamp vlot laat verloop het.
Thaba se etos is gebou op Geloof, Respek, Integriteit en Trots. Die kamp se bedryf is weldeurdag en diep begrond. Ons fokus is karakterbou en ons doen dit as Voortrekkers deur kultuur, avontuur en die natuur. Thaba 2019 was geen uitsondering nie. In die woorde van ’n Thaba-mentor: “Ek het my hart op Thaba verloor en my huis gevind!”
Vir nog foto’s, besoek gerus http://thabakamp.co.za