Transvaal se 2018 Voriesaamtrek was vol dinamiet!

Ons het behoorlik die oë laat rek met ’n rekordgetal van driehonderd en veertig (340) plesierige Afrikaners: ouers, kinders, staatmakers, offisiere, groot en klein.

Tydens hierdie ongelooflike ervaring het ons hoofleier Danie Langner en adjunkhoofleiers Corlia Botha, Johan Laubscher en Elizma Smit saam met die gebiedsbestuur en kampleiers koppe bymekaar gesit oor waarheen Transvaal se Voortrekkers op pad is met die oog op 2023. Almal is dit eens: Vorentoe!

Die ouers kon met hulle onderskeie kursusse en werkswinkels voortgaan met die wete dat die kinders in die bekwame sorg van Alet van der Merwe en haar span was. Die tagtig (80) jeuglede se aktiwiteite het gewissel van swem, stap, kettie-skiet, fliekaande en die geleentheid om hulle kunstenaarsvaardighede op die proef te stel.

Terwyl die toekoms van Transvaal tydens die gebiedswerkswinkel bespreek is, het die ander offisiere kursusse soos Voortrekkerbestuur, JOP, Wynkennis, Spanhantering en Fotografie kafgedraf. Die administrasiewerkswinkel het gesorg dat almal op dieselfde administrasie- en SAS-bladsy is, terwyl die spanoffisierwerkswinkel spanoffisiere bemagtig het.

Bedags was dit kokend warm en het die water gevloei. Diegene wie gelukkig was om ’n tydjie af te knyp, het in die swembad gaan afkoel.

Chantelle Muller se snoepie het gesorg vir koue koeldrank, water en sjokolade!

Die avonture is uitgebrei na die aandprogramme en so het almal die geleentheid gekry om mekaar beter te leer ken. In die aande was die hitte ons begenadig en kon vriende mekaar om die kampvuur vind! Natuurlik is die “nuwe gesigte” ook beter leer ken. Die atmosfeer was ontspannend en almal het grappies vertel en vakansie-avonture gedeel tot sonsopkoms!

Sondagoggend is afgesluit met ’n inspirerende kerkdiens met ’n spesiale voluit vorentoe boodskap en die kampterrein is in stof agtergelaat …

Ons tenks is vol!