Vaart van VTS Seejol 2019
deur Retha Knoetze
Op 14 Junie 2019 is daar ’n groot gegons by die hawe in Pretoria (Hoërskool Waterkloof). Matrose en bemanning wat mekaar ’n jaar laas gesien het groet mekaar uitbundig. Daar is op die hawe ’n paar nuwe matrose wat onseker rondstaan maar hulle vind gou uit waar die Voormas se klein bootjie is en waar hulle plek op die skip VTS Seejol is. Op die vaart was daar 5 klein bootjies (busse) wat die matrose en bemanning na die VTS Seejol skip vervoer het wat in Hartenbos geanker gestaan het. Die bagasie is gou ingelaai sodat ons met die vaart kan begin. Die bootjies het vertrek en nog ’n paar bemanningslede is langs die pad opgelaai. Ons het aangedoen by Randburg, Vaal Plaza en
Kroonstad. Op Bloemfontein het ons nog ’n bootjie en ’n hele swetterjoel matrose en bemanning opgelaai. Die vaart met die bootjies het baie goed verloop. Die bootjies het ’n draai by die Spook van Uniondale ook gemaak, maar sy wou nie saam met ons vaar nie. Kort voor middagete die 15de Junie het die bootjies in die hawestad Hartenbos aangekom en kon die 320 matrose en 84 bemanningslede aan boord van die VTS Seejol gaan. Die Kaptein en van sy hoof bemanning het die bootjies met trots en afwagting ingewag.
Gou is daar vir die matrose en bemanning verduidelik waar om heen te gaan om hulle kajuite te gaan inrig. Vinnig het die matrose hulle eie wande aan die tente gehang, nes geskrop en veilig gemaak vir as daar dalk groot golwe sal kom. Moeë en honger matrose het ’n heerlike middagete uit die skeepskombuis ontvang. Na die ete het die matrose na hulle verskillende divisies gegaan: Voormas (graad 8), Grootmas (graad 9), Kruismas (graad 10), Sinkers, De Kotter, Snorkelduik, Griffiers en Kwartdek. Die matrose het die skeepskaptein die aand ontmoet en vroeg na die kajuite gegaan om uitgerus te wees vir die werk op die skip die volgende oggend.
Die res van die week was die matrose heerlik besig met hulle werk op die skip. Daar is verskeie kere aan wal gegaan om verkillende uitstappies te doen. Van die matrose was selfs so bevoorreg om te gaan uitslaap. Daar is in natuurreservate, grotte en chalets uitgeslaap. Sommige matrose het op die duine uitgeslaap en moes duindollars verdien vir hulle kos, ens. Tydens die uitstappies is die Mitose skulpiemuseum, Robbeneiland, Vuurtoring, drukkerye ens. besoek.
Die Kwartdek (Selfbehoud) is die Saterdag/Sondag uit en die ander matrose het hulle eers die Donderdag weer op die water sien aankom. Donderdagaand was daar ’n stormwaarskuwing aan die skip uitgereik. Vinnig het die kaptein en sy hoof bemanning besluit dat die matrose die Vrydag hulle rusdag in Hartenbos sou spandeer waar hulle lekker Waterwurm gery het, geswem het, mini golf gespeel het of lekker saam met nuwe vriende in ’n restaurant gesit en kuier het. Die middag is die kajuit (tente) afgeslaan en die kamp opgeruim, en teen aandete het die matrose rustig na die ATKV-saal gegaan waar hulle heerlik gesokkie het.
Vroegoggend het die matrose bymekaar gekom vir ontbyt. Die bootjies is gelaai en die vaart huiswaarts toe het begin. Die vaart is afgesluit met ’n veilige rit en almal het gegroet met die belofte om mekaar weer volgende jaar op die VTS Seejol se vaart te sien.