Venterskroon, jy is Bakgat!
Die tema van Venterskroonkamp 2017 was “Ek KAN… want Jesus is…!” Die daaglikse tema wat die spasies gevul het, was “Liefde”, “Blydskap”, “Oorwinning” en “My Vriend”. Hierdie temas was daagliks uitgeleef op die kamp met elkeen wat hartsafdrukke gelaat het oral waar hulle gaan met wat hulle gesê en gedoen het. Mens kon dit gedurig beleef met al die glimlaggende gesiggies en vrolike gesing en lag deur die kamp! Met kursuskrete en liedere soos “Jinne, maar die ding lyk sharp!” en “Ek is gebore in ’n Telefoonpaal” wat uit volle bors gesing is, kon mens ook nie anders as om ook met ’n permanente glimlag deur die kamp te loop nie. Nie eens twee aande se heerlike reën kon die kamp se gees demp nie.
Die liedjie, “Make a Melody in my Heart”, het vir nog meer pret en plesier by die kamp gesorg, want gedurende die dag wanneer die eerste note van die liedjie oor die klankstelsel deur die kamp weerklink, los almal alles en begin met oorgawe buite hul lokale saam sing en dans. Die lawwe danspassies het almal laat skater – veral toe oom Leon van Spoorsny dit ook geesdriftig saamgedoen het en die Kêkkelbekkie Nuus se koerant daardie dag gehaal het!
Die “Fotohoekie” was ook ’n deurlopende aanloklikheid en het gesorg vir heelwat kleurvolle en uhmmm…. “interessante” foto’s! Tannie Anna se wolkekasteel het menige laat wonder… Tot die besoekende Gebiedsleier, tannie Zandra Machin, is daarheen gesleep vir ’n ‘foto-sessie’ tydens haar kuier!
Die Taakmag het sommer vir hulle eie vermaak gesorg en hulle “Belfie”-toer het groot pret besorg oral waar hulle vir hul “Bank selfies” gaan poseer het.
Elke kursus se program was tjok en blok vol met ongelooflike wonderlike en leersame aktiwiteite en dinge om te doen. Hulle het nie ’n oomblik van ledigheid gehad nie. Gooi nog so ’n paar prettige aandaktiwiteite ook by en dis ’n kitsresep om die kampers elke aand moeg, maar gelukkig te laat inkruip. Een van die hoogtepunte was Gasheer/Gasvrou se ‘bangbroek’-partytjie vir Frikkie#1 se verjaarsdag. Dit was báie snaaks en ou Frikkie#1 was maar heel bang vir al die snaakse proesels wat hy geblinddoek moes eet. Frikkie#1 was ook ‘onder skoot’ vanaf Toeka wat hulle ‘bokdrol-spoeg’-vaardigheid voor ete bietjie op hom uitgetoets het. Hy was egter nie té bang om boontjies uit te deel vir ’n goeie daad of mooi liedjie nie – sy hartjie was baie sag veral as daar ’n paar halfkroontjies met bakhandjies voor hom kom smeek het…
Tot almal se skok was daar hierdie jaar GEEN snoepie nie…! Waaat? … of nie??!?! Ja, die snoepiekwessie was deurdringend ondersoek deur die ywerige Kommunikasie joernaliste en daar is bevind dat daar tóg die heerlikste lekkernye uitgedeel is tydens die kamp met verversingstye. So is die soettande darem ook tevrede gestel bo en behalwe die heerlike etes wat oom Andries en sy span opgetower het. Oom Andries se kombuisspan ken hulle werk goed en het als onder beheer gehad. So is die ‘weghol-hoender’ ook gou weer kombuis toe teruggeboender – heel betyds vir aandete.
Nou is “die stowerige grondpad geruil vir swart teer en wit lyne, die skerp klank van reën teen die seil van ’n tent nou net ’n dowwe geruis teen die ruit van my motor, die asemrowende sterrehemel vervang met neon liggies. Soos ons ’n verdwaalde traan wegpik en mekaar met ’n knop in die keel groet, moet ons met ’n swaar hart afskeid neem van Venterskroon in die weerkaatsing van ’n truspieëltjie. Dit is ’n kosbare herinnering en daar word vorentoe beweeg na ’n nuwe dag, nuwe uitdagings, nuwe uitkyk, nuwe kampe en so ook nuwe vriende. Tot wedersiens (Hou die blink kant bo, as dit roes… draai dit om)”. In hierdie woorde van Rudolph Prinsloo het hy perfek opgesom hoe mens voel as jy telkemale wegry van die ongelooflike geestelike en hernuwende ervaring wat groot en klein beleef op die geliefkoosde Voortrekkerkampe… hierdie keer Venterskroon waarnatoe ons elke jaar sonder huiwering terugkeer.
Venterskroon, jy is Bakgat!
Deur: Danie Langner