Virtuele e-kamp vir Kathu se Tarentale-span

Susan van der Berg

Die 11 lede van die Graad 5 Tarentale-span het die naweek van 5-7 Februarie ’n virtuele e-kamp gehou as deel van die spesialisasie, Kampering. Spanlede het elkeen by hul eie huis gekamp, neef Nicolaas Zaayman het rondgery en by almal gaan inloer, natuurlik streng volgens Covid-reëls.

Die Vrydagaand moes die hele gesin ’n gesprek hou oor die waarde van beplanning, selfdissipline en roetine.

Die spanlede moes gedurende die naweek een ete vir die hele gesin voorberei. Ook moes elke lid ’n vuurtjie maak sonder om aanstekers en sulke dinge te gebruik, want ons kamp mos eintlik in die “veld”.

Saterdagoggend het ons virtueel geleer hoe om brandwonde, snywonde, spinnekopbyt, bysteek, slangbyt en doring uithaal te hanteer en te doen. Die hele gesin het saam deelgeneem. Groot, groot sukses!

Elke dag is ook oggend- en aandgodsdiens gehou. Sondagoggend moes elkeen ’n erediens op TV kyk of oor die radio luister.

Alle beplanning, verslae, briefies, begrotings, ens. moes streng genoteer word. Daarna is dit alles saam in ’n leë koffiebottel geplaas. Die koffiebottel moes volgens ’n kamptema versier word.

Hierdie kamp het die spanlede en hul ouers betrek. Dit het gesinsverhoudinge gebou, gesprekke aangemoedig en die beste van alles – ons het gewerk aan die Kampering-spesialisasie.

So ’n e-kamp kan met die nodige beplanning ’n groot sukses wees.

Kathu se Tarentale-span hou beslis die Voortrekkers se naam hoog.

 

Ander nuus van Kathu:

Beste Verkennerspan

Die Graad 8-span van Kathu-kommando is as die beste Verkennerspan vir 2020 aangewys. Die span doen van Augustus tot 7 November 38 spesialisasies, waarvan Jorina Mostert 10, Niel Zaayman 7 en Josua Pretorius 6 voltooi. Die hele span het die Tuisverpleging en Covid-spesialisasie voltooi. Jorina het die langpad, 560 kilometer Doornkloof toe aangepak vir ’n Gebiedskamp, en op pad soontoe moes op elke dorp gestop word vir die Nasionale Gedenkwaardighede spesialisasie wat aanlyn aangebied is.

Lede van die Graad 8-Verkennerspan van 2020, Kathu-kommando

 

Pret met blokraaie

Die Graad 5 Tarentale-span het hul jaar afgeskop met ’n navorsingsprojek uit die Weg-tydskrif se blokraaie. Die lede moes die antwoorde gaan soek en dan na hul offisier, neef Nicolaas Zaayman, stuur. Die aktiwiteit tel dan ook as deel van die spesialisasie Dierekennis wat gewoonlik op die Noord-Kaap Gebiedskamp gedoen word.

Selfs die mammas en pappas het help soek en so is die hele gesin betrek. Dit was groot pret!

 

Gemeenskapsprojek

Simone Wiid van die Kathu-kommando het vir haar graad 12-Gemeenskapsprojek koeksisters gebak om geld in te samel vir die Kalahari Heart DBV van Deben. Die Kathu Angling en Petshop winkel het ook ’n donasie gemaak en sosoende kon Simone 400 kg hondepille, 23 kg katpille, 8 kg konynkos en 5 kg mielies skenk. Simone is ’n enkeling in die span en moes al die werk manalleen doen.

 

Handwerk-spesialisasie

Die Handwerk-spesialisasie word jaarliks by Bodemvas aangebied en in 2020 is ons gepootjie deur Covid. Gelukkig kon Kathu-kommando met alle Covid-reëls in ag geneem nog steeds die Spesialisasie aanbied.  Ons het elkeen ’n Voortrekkerbord en beker versier, kaartjies gemaak, tolletjie brei gedoen, badsout en ook ’n handpop gemaak.

 

Spanbou

Die graad 8-span van Kathu-kommando het ’n lekker spanboumiddag bygewoon waar ons mini-gholp gaan speel het. Die Colorado Spur van Kathu het die span trakteer met gratis hamburgers en koeldrank. Ongelukkig is ons nie gewoond aan mini-gholf nie en ons het nog baie oefening nodig; niemand kon ’n “Hole in One” speel nie, al het ons op al die putjies 5 houe probeer.