Virtuele spanhantering

deur Karin Stoffberg

Toe ek die eerste keer die woord Zoom in ’n ander konteks hoor, het ek gedink die persoon het nou die verkeerde woord gebruik. Hoe sou mens nou ooit die sin – ons het sommer Zoom gebruik om die vergadering te hou – verstaan as jy die woord Zoom met ’n kamera se lens verbind? Wel die Voortrekkers het Donderdag 20 Augustus die eerste virtuele Spanhanteringskursus met Zoom aangebied. Baie dankie aan Oord Oosterlijn vir die inisiatief.

Martie Bergh het die kursus begin deur vir ons almal mooi te verduidelik hoe Zoom werk. Daar was 23 kursusgangers teenwoordig en ’n paar kursusaanbieders. Dit was lekker om almal in die virtuele kursuslokaal te sien. Hou asb. die kameras sover as moontlik aan, was die instruksie, behalwe as die bandwydte pla. Mikrofone af, behalwe as jy wil praat. Daar was deurgaans baie goeie interaksie. Almal moes hulle verwagtinge van die kursus op ’n virtuele witbord skryf. Zoom het soveel moontlikhede. Kursusgangers kan die geselsfunksie (chat) gebruik waar jy jou mening kan gee. Dan kan mens handjies opsteek, sê as jy van iets hou of as jy nie saamstem nie, en dan waarvan ek die meeste hou, is die prentjie van die koppietjie wat jy kan gebruik as jy ’n breuk wil neem. Een van die kursusgangers het ’n boodskap gestuur “ek is nou-nou terug, sit net gou die baba in die bed”. Een van die grootste voordele is dat jy die kursus in die gemak van jou eie huis kan doen.

’n Besondere dank aan Mauritz Meiring, Martie Bergh en Carin Coetzer. Mauritz was die aanbieder van die eerste module en het met sy praktiese ervaring en kennis vir die kursusganger baie stof tot nadenke gegee. Dankie ook aan Martie met die hulp met Zoom en Carin vir al haar reëlings. Die kursus is baie goed georganiseer en hierdie inisiatief maak mens baie opgewonde.