Voortrekkerklippies
deur Adri Steyn
2021 Skop af en dít terwyl Covid-19 nog rondhang. Dit was ’n moeilike jaar in 2020. Dus het die Ruiterwag Voortrekkers vol moed aan die werk gespring om 2021 ’n beter jaar te maak.
“PE Rock” het op Facebook met die projek begin waar geverfde klippies weggesteek word orals waar mens ’n plek kan vind. Dan word ’n foto op Facebook gelaai onder “PE Rock” met die naam van wie en waar die klippie gevind is met die unieke #voortrekkers inskrywing by.
So spring die Vories weg. Oud en jonk verf, sit ’n unieke boodskap op en gaan steek die klippies dan weg. Daar word ook so tussen die wegsteek, na klippies gesoek. Die avontuur van wegsteek en vind het orals posgevat. Daar is selfs klippies in Port Elizabeth, Kareedouw, Uniondale, Oudtshoorn, Huisrivierpas, Ladismith (Wes-Kaap), Sutherland, Drakenstein Leeu Park, Kaapstad V&A waterfront en Die Kasteel die Goeie Hoop, Jouberpark (Wellington) en Taalmonument(Paarl) gevind. Regdeur Facebook kan van ons fondse gesien word.
So het ook ’n omgeeprojek ontstaan by die Kankereenheid in Port Elizabeth. Klippies is geverf en daar weggesteek. Huldeblyke aan Voortrekkers, familie en vriende wat hul stryd teen kanker verloor het, diegene wat steeds veg en diegene wat kanker oorwin het. Hierdie klippies het soveel hoop en bemoediging gesaai.
In die Bybel sê Jesus in Lukas 19:40 die volgende: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep.”
Niemand kan klippe maak behalwe God nie. Daar is geen fabriek of mens wat een enkele klip vir homself kan eien nie. Geen eer vat vir die maak of skep van ’n klip nie. God het hulle gemaak en op aarde geplaas. ’n Skepping wat niemand kan namaak nie.
As jy so loop, in die natuur of by die see, skree die klippe God se goedheid uit.
Netso het hierdie klippies gehelp om God se boodskap steeds deur die jare uit te skree.
En as jy iewers op jou lewenspad ’n #voortrekkerklippie optel, daag ons jou uit om dit op Facebook te plaas en weer weg te steek.
Een klippie bring meer hoop en geluk as geen klippie. Kom ons versprei die genade wat aan ons gegee is. Al is dit dan nou ook met ’n geverfde klippie, want net miskien, het iemand op ’n dag so ’n klippie nodig gehad.
Neem deel en plant julle klippies en kyk hoe fondse en glimlagte groei wanneer hulle gevind word.
“Die klippe sal dit uitroep”.