Voortrekkers maak ’n verskil

deur Karen Hauman en Nelmari Oosthuyzen

Met heerlike weer, soos op 29 Februarie 2020, wil almal die strand opsoek. Of dalk is dié spesiale skrikkelSaterdag perfek om lekker te gaan fliek.

Dit was egter anders vir ’n groep Voortrekkers van Ruiterwag-kommando. Hierdie jongmense het gekies om in die warm son vullis op te tel om so hul omgewing skoner en vriendeliker te maak. Inderdaad DIENSBAAR soos hulle van jongs af in die Voortrekkers leer. Vroegoggend het die Eekhoringspan vriende en familie in Lorraine (op die oop veld agter Checkers) ontmoet.

Handskoene en swartsakke, geborg deur Raadslid Gustav Rautenbach, is uitgedeel. Gou-gou het nuuskieriges langs die pad gestop om te kom uitvind wat aan die gebeur is. Yolandi en James Burness en Roberts Moore van die buurtwag, asook Mondré van City Wide het spontaan ingespring en hand bygesit.

Die Eekhoringspanlede (Lisa Vosloo, Nolene du Preez, Joanell Jonck en Clayton van Vuuren (vriend van die Voortrekkers)) is almal matriekleerders van Hoërskool Framesby. As bydrae tot die ’n Plekkie vir ’n Spekkie-projek het hulle saam met hul volwasse spanleier, Adri Steyn, ’n spekboom geplant. Hierdie jongmense is beslis ’n inspirerende voorbeeld.