#VoortrekkersKAN Roei
Die hoërskoolspanne van die Voortrekkers Kanonkop Brackenfell het hulleself bewys as voorstevlotvaarders deur drie pryse los te roei in die onlangse Wes-Kaap Voortrekkers Verkenner Vlotvaart op die Bergrivier by Velddrift. Te midde van die voortslepende droogte is die bietjie nattigheid en avontuur op die water terdeë geniet na ’n lang nag van vlotte bou op die modderige rivierwal met net toue, pale en dromme. Die Graad 10 en 12 Branderderplankryers het derde gekom in die gemengde afdeling en tweede in die Beste Vlot afdeling, terwyl die Graad 8 en 9 Superhelde die derde meisiespan oor die wenstreep was. Die Graad 8 en 9 seuns se Vlotredders-span was die derde beste vlot, meestal as gevolg van die stewige knope en konstruksie van hul vlot.
Die Voortrekkers Kanonkop (www.kanonkop.org / @KanonkopVoortrekkersBrackenfell) dien reeds sedert 1976 die Brackenfell gemeenskap deur moderne Afrikanerskap, positiewe Burgerskap en konsekwente Christenskap. As jy lief is vir pret, die buitelug en jou Afrikaanse kultuur, kan jy gerus Vrydae tussen 18:00 en 19:00 ‘n draai kom maak by die NG Kerk Proteahoogte – almal is welkom.
Deur: Johan Minnie