Wielrijders hou koers op Thaba
Net noord van Brits is die vroegoggend bosgeluide, gedurende die afgelope vakansie, beslis onderbreek deur die sjieeeerrrrrr-geluide van ywerige Wielrijders op Thaba Veldwerkkamp! Bybelstudie teen dagbreek, voortreflike modderpoele, ’n onoorwonne sin vir humor en val- en kneusplekke, sal alle bergfiets-kentekengangers nog lank bybly. Meeste bakens en roetes se name het ontstaan n.a.v. iemand se “val/streek/toertjie/aandeel” van wat op daardie spesifieke plek gebeur het … soos “Sand Samba” en “Kyk ma: geen hande!”, “Nick se VO2” ens. Bergfietsaspekte soos onderhoud, skoonmaak, tegnieke, oefeninge, beserings, verbode middels ens. is deeglik bespreek en selfs die gesoute trappers het ’n ding of twee geleer.
Sedert die begin van die kursus vier jaar gelede op Thaba, het hierdie ywerige groepie die speke laat sing en weereens ’n rekord afstand van 150 km in die omgewing voltooi. Die gedugte Thaba Epic was vol avontuur, sweet, kennis deel, en opbouende kameraadskap (of noem ons dit ketting-vriendskappe?) en is suksesvol voltooi gedurende die kamp. Die kenmerklike dorings, reën, hitte en talle onvoorsiene poetse, asook die risiko om jou saal vir ’n etlike afstand te moet prysgee as jy dit sou verdien, kon nie die entoesiasme van die Wielrijders demp nie! (Die kursusnaam stam af van die Verkenners van Danie Theron, wat bevind het dat fietse baie stiller en meer voorspelbaar as perde is tydens verkenningstogte).
Duané, Timon, Eduard, Dian, Ewan, Migael, ons wens julle menigte geseënde myle op die saal toe, asook die suksesvolle deelname aan Selfbehoud volgende jaar. Ons spreek graag ’n woord van besondere dank aan twee professionele fietsryers uit vir julle voorbereiding en ongekende aanbieding van die kursus, Gert en Nicolai: dankie dat julle ons jongmense se potensiaal kom help ontgin het, fisies sowel as geestelik. Stephan, René, Heinrich en Juan: Julle is ysters! kry julle by die boom J
Bergfietsryer Gebed
Ons ry met ’n gebed op ons lippe: voor ons vra vir enigiets, laat ons eers kyk wat ons het. Ons dank God dat ons kan ry met die wind in ons hare, dat ons familie, vriende en naaste dit met ons kan deel.
Ons moet in gedagte hou dat dit wat ons het, vinnig weggeneem kan word. As ons moet vra, kom ons vra dit wat nie met geld gekoop kan word nie. Ons vra vir opregte waardering van die natuur. Ons vra vir longe vol skoon lug, en krag in ons bene. Ons vra vir goeie gesondheid en helderheid van verstand. Ons vra vir wederkerige respek op die fiets, en goeie herinneringe as ons ons kop neerlê op die kussing.
Here, U laat ons toe om groot probleme klein te maak terwyl ons ry. Op ons fietse is ons almal gelyk, almal deur U geskape. Mag ons genoeg fiets ry om daaraan herinner te word. Laat ons ry in U skaduwee. Amen
Lees ook
Jagters – deur die oë van ‘n mentor
Deur: Ranya van der Walt