Winterkamp
Baie van die Voortrekkers is dalk bewus van die Vrystaatse Winterkamp. Dié jaar het die sewende Winterkamp plaasgevind vanaf 24-29 Junie op Doornkloof. Tydens Winterkamp 2016 is die volgende kursusse aangebied: Jag en Wildbeheer, Boogskiet en Boogjag, Ruiterkuns en Noodhulp, Bergfietsry, Fotografie en Joernalistiek, Veldstudie en Voël-identifisering, Handwerk en Spele. Ek was betrokke by die Jag en Wildbeheer en deel graag so ’n paar gedagtes met almal.
Of ons dit nou wil weet of nie, die boer en sy roer is deel van ons Afrikanerkultuur. Die jagbedryf het ’n baie vooruitstrewende bedryf geword in ons land, en dit het tot gevolg gehad dat hierdie stukkie kultuur vir baie van ons buite bereik is. Die Jag en Wildbeheer-kamp bied elke jaar aan 30 verkenners die geleentheid om iets van jag te leer en te ervaar. Ons begin by die begin en kyk bietjie waar vuurwapens vandaan kom. Dan kyk ons wat die wet sê rondom vuurwapens, ons leer hoe wapens en ammunisie werk, ons leer hoe om veiligheid eerste te stel, en dan leer ons skiet. Ons skiet met verskillende kalibers op verskillende afstande op die skietbaan.
Die verkenners wat ’n blesbok wil skiet, kry die geleentheid en word daar vir ’n hele dag gejag. Vanjaar het ons nie minder nie as 23 Blesbokke gejag! Vir die meeste van die jagters was dit hul eerste bok en is die tradisionele inlywing dan ook afgehandel. Die volgende dag het ons onder die toesig van ’n professionele blokman die vleis bewerk. Elke jagter is huis toe met sy biltong en ’n sak blokkiesvleis vir droëwors. Na die vleiswerk het ons ook ’n pret skietkompetisie gehad waar elke kamper die geleentheid gehad het om met ’n 9mm-pistool en .38sp-rewolwer te skiet. Ons het ook vir oulaas met die jaggeweer op ’n ware grootte bok-teiken geskiet, en ook met ’n haelgeweer kleiteikens geskiet. Al die kampers het dan ook aan al die vereistes voldoen vir beide die Jag en Wildbeheer- en die Vuurwapen- kentekens, en dus is die kentekens aan hul toegeken.
As dit vir jou lekker klink, kyk volgende jaar uit vir die Winterkamp-inskrywings!
Deur: Jan van der Walt