15 Februarie 2023

Vyf…

Belangrike stukkies inligting oor die Intreekursus:

  • Die Intreekursus is ’n bekendstellingskursus in die algemene beginsels van Die Voortrekkers.
  • Die Intreekursus kan aanlyn gedoen word.
  • Die Intreekursus kan deur ouers en belangstellendes gedoen word.
  • Die Intreekursus kan deur die kommandoleier of ’n kundige persoon in Die Voortrekkers aangebied word. Dit is nie ’n vereiste dat die aanbieder die Aanbiedingsvaardighede-kursus deurloop het nie.
  • Kampe kan die Intreekursus vir ouers aanbied wat nie by kentekens of kursusse ingedeel is nie.

Statistiek: Die Voortrekkers se webblad

Hier is statistiek oor gebruikers en die webblad van Die Voortrekkers. Die statistiek is vanaf Januarie 2023.

  • Daar is tussen 100 en 400 gebruikers wat daagliks Die Voortrekkers se webblad besoek.
  • Die afdelings wat die meeste besoek word, is Biblioteek (meeste), Tuis, Hoe om’s en Kampe.
  • Gebruikers kom van verskillende lande in die wêreld. Interessant is dat daar ’n groot aantal gebruikers van die Verenigde State van Amerika af is.
  • Die gemiddelde tyd wat gebruikers op die webblad spandeer, is ongeveer 3 minute.
  • Die aksie wat die meeste plaasvind, is aflaai (“download”) – 50211 deur 946 gebruikers.

Hulpmiddels in Die Voortrekkers

Daar is ’n wye verskeidenheid van hulpmiddels vir spanoffisiere beskikbaar. Die meeste van hierdie hulpmiddels kan vanaf die webblad (voortrekkers.co.za) by Biblioteek afgelaai word.
Afgesien van die Graadwielboeke (Graad 0 – 7), volledige Offisierehandleidings (Graad 0 – 7) en Verkennerlewe, kan die volgende hulpmiddels ook handig te pas kom:

 

Voortrekkerliedjies

Hier kan die Voortrekkersangbundeltjies, musiek en lirieke afgelaai word. Die begeleiding wat Johan van Rensburg vir van die Voortrekkerliedjies gedoen het, is uitstekend. Saam met elke begeleiding is die woorde van die liedjies (PowerPoint’s). Die begeleiding het ’n lekker ritme wat jou Voortrekkerspan aan die sing sal kry!

 

Handleidings en boeke

Die meeste van hierdie handleidings en boeke is ook by die Voriemôl beskikbaar.

Inkleurboek: Hierdie boek is geskik vir Graad 0 tot 2 en bevat ’n groot aantal prentjies wat ingekleur kan word.

Kaartwerkhandleiding: ’n Volledige uitgebreide handleiding wat gebruik kan word vir die aanbied van die Verkennerspesialisasie Kaart en Satellietkompas.

Touwerkhandleiding: Hierdie handleiding word gebruik om die offisierekursus Touwerk aan te bied, maar bevat ook al die knope vir die Verkennerspesialisasie Touwerk.

Seremoniehandleiding: Al die seremonies in Die Voortrekkers word stap vir stap verduidelik. Hierdie handleiding bevat ook algemene terme, woordomskrywings en funksie-protokol.

Speletjiesboek: Die voordele van speletjies word in die inleidende hoofstuk beskryf. Speletjies word in vier kategorieë ingedeel, naamlik kenmekaar-, kultuur-, avontuur- en vaardigheidspeletjies. Speel is ’n informele leerproses. Die kind besef nie altyd hy/sy is besig om iets te leer nie. Dit is dus die ideale manier om te leer.

Hoe om-boek: Hierdie boek is saamgestel uit die Hoe om-reeks en is in 2015 vir elke spanoffisier gratis gegee. Die Hoe om-reeks op die webblad is in 2020 volledig hersien en in ’n nuwe formaat aangebied.

Ander hulpmiddels: Die Voortrekkerkode, belofte, kleurkodering, range en kentekens, toekennings en vele ander kan by hulpmiddels afgelaai word.

Internet: Daar is ’n magdom idees op die internet oor letterlik enige onderwerp beskikbaar.

 

Ander boeke

Die Voortrekkers Kook: Die kookboek bevat baie lekker resepte wat spanlede self kan maak.

Kaart en Koördinaat: ’n Boek wat die geskiedenis van die Afrikaner op ’n insiggewende wyse vertel. Die Voortrekkers se storie word ook in Kaart en Koördinaat vertel. ’n Meer volledige boek is Die Voortrekkers hou KOERS! wat ’n omvattende verwysingsbron is wat die verhaal van Die Voortrekkers vertel.

Zoom-opleidingsessies

7 Maart 2023 om 19:00:

Dr. Anke Brand en Eldred de Beer is medeskrywers van die boek The digital dilemma. Restoring wholeness in spirit, soul and body. Kinders het vandag toegang tot ’n groot verskeidenheid digitale toestelle en sosiale media. Te veel skermtyd is ’n groot probleem vir ouers. Dr. Anke sal van die uitdagings aanspreek.

 

18 April 2023 om 19:00:

Dr. Santa Josling: Wenke om rooiligte groen te maak. Dr. Santa gesels oor tekens waarvoor ouers en offisiere op die uitkyk by kinders moet wees. Wat is gevaartekens?

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!