17 Oktober 2022

Vyf…

Feite oor toekennings

  • Die Voortrekkers het ’n erkenningstelsel op verskillende vlakke – gemeenskap, gebied en nasionaal. Hierdie is formele toekennings en daar is spesifieke riglyne vir die toekennings.
  • ’n Gebiedsbestuur, dagbestuur of hoofleier kan ook toekennings maak. Hierdie besture kan self besluit waarvoor – byvoorbeeld ’n toekenning vir ’n kommando (of AKL Admin) wat se administrasie baie goed is.
  • Toekennings kan ook aan Voortrekkervriende gemaak word. ’n Toekenning kan byvoorbeeld vir die hoof van die plaaslike skool gegee word.
  • Die ABC-erkenningstelsel is opsioneel.
  • Vanaf 2022 is daar informele toekennings vir Voortrekkeroffisiere.

Dankie-sê

Die meeste volwassenes wat by Die Voortrekkers betrokke is, doen dit vir die liefde van die saak waarin hulle glo. Om in die toekoms van ’n jeuglid te belê, is een van die beste beleggings wat mens kan maak. Dit is dus belangrik om dankie te sê vir volwassenes wat by Die Voortrekkers betrokke is. ’n Persoon wat weet sy/haar tyd word waardeer, sal die ekstra myl stap.

 

  • Sê gereeld dankie aan Voortrekkers op verskillende vlakke. Wees ingestel daarop om raak te sien wat mense vir Voortrekkers doen en dankie te sê.
  • Wees altyd opreg. ’n Ouer of offisier wat sien dat Voortrekkers waardeer wat hy/sy doen, sal weer help of aanbied om te help.
  • Moenie van ouers of offisiere verwag om goed te doen sonder vergoeding nie. Die meeste ouers en offisiere doen ongelooflik baie sonder om enige iets terug te verwag. Dit is egter ’n goeie plan om byvoorbeeld te vra of aan te bied om die vervoerkoste van ’n ouer wat spanlede na ’n kamp neem, te help betaal. Vra vir die ouers van die spanlede wat saam ry, om elkeen ’n bydrae vir die vervoerkoste te maak. Dikwels sal van die ouers of offisiere sê dit is nie nodig vir betaling nie.
  • Dit is nooit nodig vir duur geskenke nie. ’n Klein dankiesêgeskenk wat self gemaak is, het dikwels meer waarde as ’n duur gekoopte geskenk.
  • Daar kan ook aan die einde van die jaar ’n funksie vir offisiere gehou word om dankie te sê. Noem dit ’n dankiesêgeleentheid. Die kommandoleier kan sy waardering uitspreek teenoor offisiere wat hulle vakansie, verlof, tyd en kundigheid opoffer om so ’n verskil in kinders se lewens te maak. Dit is wat die woord dien betekenis gee.
  • Die meeste offisiere het weekliks spanbyeenkomste. Dit is nie maklik om elke week met nuwe planne vorendag te kom om byvoorbeeld 16 Graad 3-seuns besig te hou nie. Aan die ander kant is Verkenners ook ’n groot uitdaging. Die inhoud van die Verkennerlewe of kentekens moet op interessante maniere vir die Verkenners aangebied word. Die meeste spanoffisiere en kommandodagbestuurslede het ’n gesin, werk en is besige mense. Sien dit raak en spreek waardering uit. Ondersteun offisiere.

Informele toekennings en sertifikate

’n Reeks van twintig informele toekennings kan gebruik word om vir offisiere dankie te sê. Elke toekenning het ’n naam van ’n Voortrekker wat diep spore in die beweging getrap het. Daar is ook ’n kort beskrywing van dié Voortrekker se bydrae. Elke toekenning word ook vir ’n spesifieke mylpaal of prestasie gegee.

 

Pragtige sertifikate is vir elke toekenning ontwerp. Die sertifikate kan self gedruk word of Sinta Robbertse in die hoofkantoor kan ook die sertifikate teen ’n koste druk. Trofeetjies kan ook vir elke toekenning teen R100 bestel word. ’n Voorbeeld van die trofee is by Annatjie Wood in die Voriemôl beskikbaar.

 

 

Voorbeelde van toekennings:

 

Nig Sterretjie-toekenning:
Hierdie toekenning word gegee vir ’n spanoffisier wat ’n Voortrekkerspan vanaf Graad R of 1 tot 12 geneem het.

 

Tibbie Visser-toekenning:
Hierdie toekenning word gegee vir ’n Voortrekkeroffisier wat vir 10 jaar ’n spanoffisier was.

 

Schalk van Vuuren-toekenning:
Hierdie toekenning word gegee vir ’n Voortrekkeroffisier wat vir 4 jaar op ’n kommandodagbestuur gedien het.

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!