20 Junie 2022

Die seilboot as beeld om begronding aan ‘n Penkop en Drawwertjie te verduidelik

(DEEL 2)

Gebruik ’n goeie prent van ’n seilboot of ’n speelgoedseilboot wanneer jy hierdie konsep verduidelik sodat dit visueel is en makliker onthou word of laat die spanlede vir handwerk seilbootjies maak en behandel dan daarná hierdie gedeelte.

Die kraaines     =     DIE VISIE

Op die mas van groot seilbote is ’n uitkykpunt, die kraaines, waarin ’n seeman kan klim om vêr vooruit oor die see te sien waarheen hulle op pad is. Op die manier kan die bemanning van die seilboot seker maak hulle vaar nog reg.

In Die Voortrekkers is ons visie soos die kraaines van ’n seilboot. Dit sê vooruit vir ons waarheen ons op pad is.

 

 

Die navigasie toerusting     =     DIE DOELSTELLINGS

’n Seilboot wat op die see gaan moet toegerus wees met toerusting soos ’n kompas, radar en ’n stuurwiel, waarmee die rigting waarin die seilboot op die see beweeg vasgestel en beheer kan word. Daarsonder gaan die boot nêrens kom nie en net doelloos op die water rond dopper.

In Die Voortrekkers het ons doelstellings wat vir ons sê waarmee ons besig is en wat ons wil bereik, sodat ons nie net sinneloos tyd mors en niks nuuts leer of bereik soos ’n boot wat sonder rigting rond dobber op die see nie.

 

 

Die vaarreëls     =     DIE VOORTREKKERKODE

Alle booteienaars moet sekere reëls leer voordat hulle kan vaar en hulle moet hierdie reëls op die water toepas. Hierdie vaarreëls is daar vir booteienaars se veiligheid, sodat hulle weet hoe om op te tree, met mekaar kan kommunikeer en mekaar verstaan op die water en die vaart kan geniet.

In Die Voortrekkers het ons ’n kode met tien reëls wat vir ons vertel hoe ’n Voortrekker moet optree. Net soos booteienaars tree Voortrekkers op volgens dieselfde tien reëls sodat almal weet wat die regte manier is om op te tree en sodat dit vir almal lekker is.

 

 

Die skipperslisensie     =     DIE PENKOP EN DRAWWERTJIE BELOFTE

Om ’n volwaardige skipper te kan word moet ’n booteienaar ’n skipperseksamen aflê en as sy uitslae bewys dat hy al die kennis opgedoen het wat nodig is om met sy boot op die water te gaan, ontvang hy sy skipperslisensie. Dan word hy ’n volwaardige skipper.

As jy nuut aansluit by Die Voortrekkers behandel jou spanoffisier met jou die inlywingsvereistes sodat jy kennis opdoen van Voortrekkers. Jy leer onder andere van die vlag en die wapen. Daarna word jy ingelyf. By jou inlywing sê jy die belofte op en jy ontvang jou inlywingsertifikaat. Dan word jy ’n volwaardige Voortrekker.

Hoe om Geskiedenis aan te bied

“Maar Tannieee, geskiedenis is só ‘boring’!”

Liewe Offisier – moet dit asseblief nie op ʼn vervelige manier aanbied nie!

  • Gaan hou piekniek en skattejag by ʼn geskiedkundige plek.
  • Kry ʼn kenner wat passievol oor die onderwerp kan gesels.
  • Laat hulle toneelspeel, bv Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap.
  • Speel ʼn bordspeletjie bv Die Groot Trek.
  • Vertel die verhaal met fiktiewe karakters wat kinders van hul ouderdom insluit.
  • Gee die feite vinnig en hou dan ʼn vasvra.
  • Wys foto’s en video’s.

Moenie te veel inligting gee nie! Hou eerder by die basiese inligting en jou spanlede kry ʼn geheelbeeld van wat gebeur het, as dat hulle niks onthou nie omdat die inligting hulle oorweldig het.

Moenie hulle moedeloos maak met datums nie! Hulle moet die datums van hoofgebeure ken en ʼn tydlyn kan saamstel, maw bv weet dat die Groot Trek voor die Anglo Boere-oorlog plaasgevind het.

Jou entoesiasme of gebrek daaraan het ʼn reuse invloed op hoe jou spanlede daaroor gaan voel.

 

Die volgende hulpmiddels is by die Voriemôl beskikbaar:

  • Die Groot Trek bordspeletjie
  • Tydlynkaarte van SA Geskiedenis
  • Die Groot Trek foto’s – boekie (PowerPoint-aanbieding of Word-formaat ook beskikbaar)
  • Die Voortrekkers se geskiedenis (PowerPoint-aanbieding)
  • 18 Helde (een bladsy per held met die verhaal en foto’s)
  • 18 Standbeelde en Monumente (een bladsy per standbeeld/monument met inligting en foto’s).

Vyf…

wenke vir spanoffisiere wat met die jeug werk.

  • Doen moeite om die nuwe geslag te verstaan.
  • Waarheid is vir hulle relatief. Moenie probeer met feite en bewyse (kognitief ) oortuig nie. Hulle sal net sê “Dis okay, so what?” Wys voorbeelde, vertel jou storie. Jou lewe sal oortuig, nie jou woorde nie.
  • Werk aan verhoudings met jou spanlede, dis uiters belangrik!
  • Hulle het ʼn reuse behoefte aan mense wat sal luister.
  • Moenie hulle afskiet nie – veral nie oor hoe hulle lyk of aantrek nie, jy sal hulle net antagoniseer.

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!