

Vyf…
Dr. Thea Guldenpfennig het tydens die Zoom-opleidingsessie van 17 Augustus vir ons ses belangrike doelwitte vir die lewe gegee. Hier is vyf:
- positiewe denke,
- beweging en oefening,
- ’n ingesteldheid om nuwe dinge te leer,
- uit te reik na ander en
- verhoudings.
Die skakel na die infodiagram wat tien spontane feite oor Afrikaans bevat, is hieronder:

Maslow se behoeftehiërargie
Volgens die toekomsvisie van die Voortrekkerbeweging word gepoog om die jeug toe te rus om as moderne Afrikaners, positiewe Burgers en konsekwente Christene hulle roeping deur diensbaarheid uit te leef. Die doel van ’n jeugorganisasie soos Die Voortrekkers is om ’n jeuglid te begelei om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel. In die opvoedkundige sielkunde bestaan daar verskeie teorieë aan die hand waaraan menslike ontwikkeling verduidelik kan word.
Abraham Maslow, ’n baie bekende sielkundige, het ’n interessante teorie beskryf aangaande menslike behoeftes. Hy veronderstel dat elke mens sekere belangrike behoeftes het en plaas hierdie behoeftes in ’n rangorde: laerordebehoeftes soos liggaamlike behoeftes, die behoefte aan veiligheid en sekuriteit en sosiale behoeftes, en hoërordebehoeftes soos die behoefte aan erkenning en die behoefte aan selfontplooiing of kreatiewe uitlewing van potensiaal. Volgens Maslow moet die een behoefte eers bevredig word voordat jy kan voortbeweeg na die volgende. Die verskillende behoeftes word soos boublokke gebou.
Ons kyk hierdie week na liggaamlike behoeftes asook die behoefte aan veiligheid en sekuriteit. Die mees basiese behoefte van ’n mens is om versorg te wees – om kos, klere en ’n slaapplek te hê. Die behoefte aan liggaamlike kontak, dus om vertroetel te word, sluit hierby aan. Kinders wil nie net hoor hulle word aanvaar en is geliefd nie, hulle wil dit ook voel. ’n Baba se eerste belewenis van vertroue vloei direk uit die basiese behoefte van voeding en liggaamlike koestering. Selfs jy as volwassene het bo en behalwe die basiese behoefte van kos ook ’n behoefte aan fisiese kontak.
Riglyne ten opsigte van die bevrediging van die fisiese behoeftes van die jeuglid sluit die volgende in:
- Kos op kampe moet genoeg en smaaklik wees. As ’n jeuglid lekker eet, kamp hy lekker.
- Fokus, veral by die jonger jeuglede, dat slaapplek veilig, warm en gemaklik is. Wees veral sensitief vir jeuglede wat in die nag moet opstaan om ’n draai te loop.
- Maak gereeld liggaamlike kontak deur speletjies en aktiwiteite.
- Praat met respek.
Liggaamlike behoeftes is die eerste vlak van behoeftes. Die volgende vlak is veiligheid en sekuriteit. Die vervulling van die kind se veiligheidsbehoefte behels onder meer om toe te sien dat die kind veilig en geborge voel. Hierdie onderste twee vlakke moet bevredig word om na die volgende vlakke te kan beweeg sodat ’n kind eindelik na die hoogste vlak, naamlik selfverwesenliking kan beweeg.

Hantering van besige spanlede
Besige, moeilike, ongehoorsame “stout” kinders is dikwels deel van ’n Voortrekkerspan. Dit veroorsaak soms dat ander spanlede (en die offisier :-)) met Voortrekkers wil ophou.
“Stout” kinders se optrede word dikwels gemotiveer deur ’n soeke na aandag en/of aanvaarding. Gebrek aan sosiale vaardighede lei ook tot wangedrag. Dikwels is ouers afwesig tydens ’n kind se vormingsjare en leer hulle nie hoe om aanvaarbare gedrag te toon en om gesag te aanvaar nie. Hier is ’n paar wenke:
Die belangrikste is om vir die spanlid te wys dat jy hom/haar aanvaar. Doen dit deur takies te gee, soos om die spanregister af te merk of inligtingsbriewe uit te deel. Na die spanbyeenkoms kan die spanoffisier dalk uitvra oor ’n spesifieke vakansie of sportprestasie. Gee spesiale aandag en erkenning. Skep geleentheid vir erkenning, byvoorbeeld vra om die items vir die speletjie op te ruim en sê dan dankie.
Lekker aktiwiteite moet ook aangebied word, veral met jonger Voortrekkers. Spanlede sal hulle wangedra as daar lang stukke uit graadwielboeke gelees word. Leer werk deur speletjies te speel. Gaan op uitstappies, waar hulle aktief besig is. Betrek elke spanlid op verskillende maniere, byvoorbeeld dat elkeen ’n handwerkitem maak of elkeen ’n beurt kry om iets te sê. Indien kinders Voortrekkers geniet, is daar minder dissiplinêre probleme. Dit is belangrik dat so ’n besige kind dit nie vir ander spanlede sleg moet maak nie. Wees konsekwent en stel duidelike grense. Onthou die gesegde: “Kinders wat jou aandag die nodigste het, sal daarvoor vra op die mees onversoenlike maniere.”