22 Februarie 2023

Vyf…

Belangrike stukkies inligting oor ChatGPT:

  • ChatGPT is in wese ’n aanlyn kunsmatige intelligensie-kletsbot wat op 30 November 2022 deur OpenAI vrygestel is.
  • Die model is opgelei om groot hoeveelhede teks te genereer, kan vrae antwoord, teks opsom, stories skryf en nog baie meer.
  • ChatGPT kan in verskillende tale kommunikeer.
  • ChatGPT gebruik algoritmes en data uit ’n wye verskeidenheid van bronne, naamlik boeke, artikels, webwerwe en sosialemediaplasings.
  • As jy vir ChatGPT vra of dit lewendig is, sê dit: “Nee, ek lewe nie. Ek is ’n kunsmatige intelligensie-taalmodel wat deur OpenAI ontwikkel is. Ek het nie bewussyn of gevoelens nie. Ek is net ’n rekenaarprogram wat ontwerp is om op teks te reageer gebaseer op patrone in die data waarop ek opgelei is.”

Die Voortrekkers en ChatGPT

In week 2 van die Spanoffisierenuusblog is verskillende hulpmiddels uitgewys wat spanoffisiere kan gebruik. Die vraag is of ChatGPT ook ’n hulpmiddel vir spanoffisiere kan wees? Kom ons kyk hoe antwoord die kletsbot die volgende vraag: “Hoe maak ek vuur met my Voortrekkerspan?” (Antwoord word geplaas soos wat dit gegee is.)

 

Vuur maak is ’n nuttige vaardigheid vir ’n Voortrekkerspan om te leer. Hier is ’n stap-vir-stap handleiding vir hoe jy vuur kan maak met jou span:

  1. Kies ’n veilige plek waar jy die vuur kan maak. Dit moet ’n plek wees waar daar geen omliggende brandbare materiaal is nie, en waar jy maklik toegang tot water het.
  2. Sorg dat jy al die nodige materiaal het om die vuur te maak, insluitend aanmaakblokkies, aanstekers of vuursteentjies en brandhout.
  3. Begin deur ’n klein hopie brandbare materiaal in die middel van die vuurplek te pak. Hierdie materiaal kan bestaan uit droë blare, papier of strooi.
  4. Plaas die aanmaakblokkie bo-op die hoopie brandbare materiaal.
  5. Steek die aanmaakblokkie aan met die aansteker of vuursteentjie. As jy ’n vuursteentjie gebruik, hou die steentjie naby die aanmaakblokkie en vonk met ’n ander metaalvoorwerp om vonke te skep totdat die blokkie begin brand.
  6. As die aanmaakblokkie goed brand, voeg klein stukkies brandhout by. Begin met dun takkies en werk op na dikker stukke hout.
  7. Hou die brandhout netjies gerangskik om die vuur aan die gang te hou en voeg meer brandhout by soos dit nodig is.
  8. Moenie die vuur alleen laat nie, en wees altyd waaksaam wanneer jy met vuur werk.

Dit is belangrik om ’n veilige en verantwoordelike benadering tot vuur maak te hê. Onthou om altyd toestemming te kry van die eienaar van die perseel waar jy die vuur wil maak, en hou altyd ’n oog op die vuur om te verseker dat dit nie buite beheer raak nie.

 

Op die volgende vraag word vyf idees gegee: “Watter speletjies kan ek met my Voortrekkerspan speel?” Een van die voorstelle is “Vuur-aansteek-kompetisies”. Die antwoord word geplaas soos wat dit verskyn.

Vuur-aansteek-kompetisies: Voortrekkers is bekend vir hul vuurmaakvaardighede. Jy kan ’n vuur-aansteek-kompetisie hou waarin spanne moet bewys dat hulle ’n vuur kan aansteek met ’n vuursteen en staal. Jy kan ook vra dat die spanne ’n potjiekos of braaivleis moet voorberei oor die vuur.

 

Dan sluit die terugvoer met hierdie belangrike wenk af:

Hierdie is net ’n paar idees, daar is baie ander speletjies wat jy met jou Voortrekkerspan kan speel. Onthou om speletjies te kies wat by jou span se vaardighede en belangstellings pas en wat prettig sal wees vir almal wat deelneem.

 

Die voordele van Voortrekkers

Weet ChatGPT wat die voordele is om aan ’n jeugbeweging soos Die Voortrekkers te behoort? Die kletsbot beantwoord die vraag ongelooflik goed. Die bot noem ’n paar voordele. Een van die voordele is die ontwikkeling van leierskapsvaardighede. Die Voortrekkers bied aan jongmense geleenthede om leierskapsvaardighede te ontwikkel deur aktiwiteite soos kampe, staptogte en spanwerk. Volgens die bot help hierdie ervarings om selfvertroue te bou, kommunikasievaardighede te ontwikkel en leer jeuglede om goed saam met ander te werk. Benewens leierskapsvaardighede word die volgende ook genoem:

 

Gemeenskapsdiens: Die Voortrekkers moedig jongmense aan om by gemeenskapsdiens- en uitreikprojekte betrokke te raak, wat geleenthede bied om ’n positiewe impak in hul gemeenskappe te maak. Dit help om ’n gevoel van sosiale verantwoordelikheid en empatie vir ander te ontwikkel.

 

Lewensvaardighede: Die Voortrekkers bied aan jongmense geleenthede om praktiese lewensvaardighede soos kosmaak, noodhulp en selfdoen te ontwikkel. Hierdie vaardighede is nuttig in die alledaagse lewe en kan jongmense help om meer selfversorgend en onafhanklik te word.

 

Kulturele vaardighede: Die Voortrekkers bevorder die bewaring van Afrikanerkultuur en geskiedenis. Dit help om ’n gevoel van behoort te skep en bevorder ’n groter waardering vir Suid-Afrika se diverse kulturele landskap.

 

Die terugvoer sluit met die volgende stelling af: “Oor die algemeen bied Die Voortrekkers ’n reeks voordele aan jongmense, wat hulle help om vaardighede, kennis en waardes te ontwikkel wat hulle regdeur hul lewens goed sal dien.”

 

10/10 vir die antwoord!

 

Onthou dat alle antwoorde wat ChatGPT genereer moet krities geëvalueer word. Dit is nie noodwendig korrek nie.

Zoom-opleidingsessies

7 Maart 2023 om 19:00:

Dr. Anke Brand & Eldred de Beer is medeskrywers van die boek The Digital Dilemma. Restoring wholeness in Spirit, Soul and Body. Kinders het vandag toegang tot ’n groot verskeidenheid digitale toestelle en sosiale media. Te veel skermtyd is ’n groot probleem vir ouers. Dr. Anke sal van die uitdagings aanspreek. Hier is die skakel om te registreer: https://forms.gle/h1TF4mGrNsfsv5dt9.

 

18 April 2023 om 19:00:

Dr. Santa Josling: Wenke om rooiligte, groen te maak. Dr. Santa gesels oor tekens waarvoor ouers en offisiere op die uitkyk by kinders moet wees. Wat is gevaartekens?

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!