24 April 2023

Vyf…

Feite oor koerswysers

  • Die kerndoel van ’n Voortrekkerkongres is om koerswysers vir Voortrekkerbesture daar te stel waarvolgens die organisasie in die volgende termyn na ’n nuwe vlak ontwikkel kan word. Die voorgestelde koerswysers wat tydens die kongres van 2017 goedkeur is, kan as volg opgesom word:
  • Belê in die Voortrekkerloopbaan
  • Bekostigbare Voortrekkers
  • Tuiste vir gesinne
  • Gemeenskapsbetrokkenheid

Wenke om rooiligte, groen te maak

Kenners is dit eens dat angs- en depressiesimptome by kinders wêreldwyd geweldig toegeneem het. Verlies, prestasiedruk, die uitwerking van sosiale media en die Covid-19-pandemie het angs- en depressiesimptome by kinders jonger as 18 jaar byna verdriedubbel (Lig – 17 Oktober 2022).

 

Dinsdag 18 April het dr. Santa Josling in die Zoom-sessie aangedui dat sy as Opvoedkundige Sielkundige wat by skole betrokke is, baie meer aanmeldings die laaste jare ontvang as voorheen. Die praatjie het gehandel oor die identifisering van gevaartekens (“rooiligte”) en hoe om dit “groen” te maak. Die volgende tekens kan aandui dat tieners emosioneel swaarkry:

  • Geniet nie meer dinge wat voorheen vir hulle lekker was nie.
  • Slaappatrone wat verander.
  • Gereelde moegheid.
  • Akademiese prestasie daal.
  • Kuier nie meer met maats nie.
  • Bring lang tye alleen in sy/haar slaapkamer deur.
  • Veranderende eetgewoontes bv. tel gewig op.
  • Meestal geïrriteerd.
  • Lae selfbeeld.
  • Gee nie aandag aan voorkoms nie.
  • Begin rook of gebruik dwelms of drank.

 

Indien hierdie simptome vir langer as twee weke voorkom, is dit raadsaam om ’n afspraak by ’n professionele persoon te maak. Dr. Josling het aangedui dat dit baie belangrik is dat spanoffisiere na spanlede sal luister. Gee vir jou spanlede geleentheid om te gesels en hulle emosies te verwoord. ’n Oulike wenk wat sy gegee het, is om vir spanlede te vra om ’n punt uit 10 te gee oor hoe hulle voel. ’n Punt van 10 beteken dit gaan uitstekend en 1 dat dit sleg gaan. Gee hulle geleentheid om dan te sê waarom. Deur emosies te verwoord, voel die meeste tieners beter. Die sessie is opgeneem. Kontak die hoofkantoor vir meer besonderhede.

 

Die volgende Zoom-sessie handel oor Kreatiewe spanaanbiedings en word deur Mathilde de Klerk aangebied. Die datum van die aanbieding is Dinsdag 23 Mei om 19:00.

Veerkragtigheid

Dit is belangrik dat jongmense eienaarskap en selfverantwoordelikheid vir hulle lewe en leer aanvaar en veerkragtigheid ontwikkel wat hulle in staat stel om by veranderinge aan te pas. Wat is veerkragtigheid? Veerkragtigheid is die vermoë/vaardigheid wat ons kan aanleer om vinnig ’n negatiewe of positiewe situasie te kan evalueer en gou daarop te reageer tot voordeel van jouself en jou toekoms. Waar daar in die verlede klem gelê is op intellek en later op emosionele intelligensie, is veerkragtigheid die nuutste vaardigheid wat uitstaan.

 

Hier is wenke vir spanoffisiere om veerkragtigheid by hulle spanlede te versterk:

  • Prys spanlede gereeld vir goeie gedrag, prestasies of wanneer hulle dit verdien. So bou jy hulle selfvertroue.
  • Gee geleentheid vir spanlede om besluite te neem, byvoorbeeld by die beplanning van ’n spankamp.
  • Help hulle om positiewe verhoudings met hulle spanmaats, vriende en ander volwassenes te bou.
  • Gee vir jou spanlede uitdagings en laat hulle toe om daaruit te leer, selfs al kry hulle dit nie reg nie.
  • Moedig positiewe denke aan. Leer vir jou spanlede die liedjie: “’n Positiewe houding, maak alle laste lig …”
  • Laat hulle vaardighede ontwikkel om probleme op te los.
  • Moedig hulle aan om hulle emosies te verstaan en te beskryf hoe hulle voel.
  • Laat hulle vir hulself doelwitte stel.

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!